Foto Krediet: Gemini
Gekopieër
VSA-verhouding vir ANC-verkiesingspunte opgeoffer
Die Suid-Afrikaanse regering se hantering van die Amerikaanse ambassadeur, Leo Brent Bozell III, én die ANC se komende teen-Amerikaanse optog, is goedkoop verkiesingstaktieke waarvoor gewone Suid-Afrikaners die prys gaan moet betaal.
Solidariteit waarsku dat die regering se histeriese reaksie op ambassadeur Bozell se onlangse uitlatings oor eise vir ʼn beter handelsverhouding, asook die daaropvolgende besluit om hom ʼn “koue skouer te gee”, nog ernstige diplomatieke en ekonomiese gevolge vir die land kan inhou.
Die Verenigde State is een van Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote. Enige doelbewuste verswakking van dié verhouding, veral om binnelandse politieke punte aan te teken, stel werksgeleenthede, beleggings en ekonomiese groei in gevaar.
Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, het Solidariteit herhaaldelik gewaarsku dat Suid-Afrika nie die luukse het om strategiese internasionale verhoudings roekeloos te hanteer nie.
“Die ANC het egter besluit om die verhouding met die VSA in ʼn politieke veldtog te omskep. Dit het duidelik na vore gekom in hul besluit om die VSA-ambassadeur ʼn koue skouer te gee en die optog vir 21 Maart te reël.
“Hulle plaas die hele land se verhouding met ons grootste handelsvennoot in gevaar vir stemme. In plaas daarvan om goed te regeer, het hulle besluit om groot te mobiliseer.
“Die gevolge van hul korttermyn- politieke oorlewingsplan gaan Suid-Afrikaners duur te staan kom,” sê Hermann.
Volgens hom is 500 000 poste direk van VSA-handel afhanklik, met nog honderde duisende poste wat indirek aan Amerikaanse handel gekoppel is.
“Dit is benewens die potensiaal van uitgebreide Amerikaanse handel. Die ANC tree net in sy eie belang op, eerder as dié van die land, en nêrens word dit beter uitgebeeld as deur uitsprake van die party se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, nie,” sê Hermann.
Mbalula se roekelose uitsprake waaroor in die media berig word, dra by tot ʼn gevaarlike eskalasie van spanning wat Suid-Afrika se internasionale beeld en ekonomiese stabiliteit verder kan skaad.
“Sy opruiende woorde beskerm nie Suid-Afrika se soewereiniteit nie; dit stel die land en sy mense juis aan groter risiko’s bloot.
“Die verpolitisering van hierdie noodsaaklike verhoudings vir korttermyn- politieke gewin is onverantwoordelik en onaanvaarbaar,” sê Hermann.