Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Ontslaan ná slegs twee weke: Solidariteit staan restaurantbestuurder by
Deur Robin-Lee Maré
ʼn Restaurantbestuurder van Pretoria is deur haar werkgewer vergoed nadat sy onbillik ontslaan is ná ʼn kort dienstydperk van altesaam 26 dae, waarvan slegs twee weke werklik gewerk is. Danksy die ondersteuning van Solidariteit het Marlene Osborne haar saak by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) beveg en gewen.
Osborne is op 1 April 2025 as restaurantbestuurder by Sticky BBQ aangestel. Slegs twee weke later, op 15 April, het sy ʼn besering opgedoen waarna sy medies afgeboek is. Sy was van 15 tot 26 April met siekverlof. Toe sy egter gereed was om terug te keer werk toe, het haar werkgewer haar meegedeel dat sy reeds vervang is.
Solidariteit het namens Osborne ʼn saak van onbillike ontslag na die KVBA verwys. Die werkgewer het nie vir die arbitrasie opgedaag nie en die saak is vervolgens in sy afwesigheid aangehoor.
Volgens Hannes de Kock, arbeidsreglitigant werksaam by Solidariteit, het kommissaris Buti Malube in Osborne se guns beslis, ten spyte daarvan dat sy amptelik slegs 26 dae in diens van die restaurant was.
“Osborne het ʼn toekenning van vyf maande se vergoeding ontvang, ten spyte daarvan dat die moontlikheid vir en die hoeveelheid vergoeding normaalweg beperk sou wees weens haar kort dienstydperk. Kommissaris Malube het bevind dat die rede vir haar ontslag wel vyf maande se vergoeding regverdig,” verduidelik hy.
De Kock meen die saak onderstreep ʼn belangrike beginsel in die arbeidsreg.
“Alle werknemers het ʼn fundamentele reg tot billike arbeidspraktyke. Hierdie reg word beskerm deur artikel 23(1) van die Grondwet van Suid-Afrika, wat bepaal elke werknemer moet regverdig in die werksplek behandel word,” sê hy.
Volgens De Kock wys sake soos dié hoe werknemers nie hul regte moet prysgee bloot omdat hulle vir ʼn kort tydperk in diens gestel was nie.
De Kock meen Marlene Osborne se saak dien as ʼn unieke maar toepaslike herinnering dat grondwetlike beskerming vir alle werknemers geld, of iemand nou jare lank in diens was of skaars 26 dae ʼn pos beklee het.
“Wanneer daardie regte geskend word, staan Solidariteit gereed om vir sy lede te baklei,” sluit hy af.