loading
Mediaverklarings
4 maande gelede
motsoaledi-vat-die-land-agteruit-met-ngv-en-ras

Foto Krediet: Verskaf

Motsoaledi vat die land agteruit met NGV en ras

Solidariteit veroordeel die gevaarlike uitsprake van die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, waarin hy ras gebruik om steunwerwing vir die regering se onwerkbare Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te probeer kry.

Onder sy uitsprake teenoor ’n internasionale aptekersgehoor in Kaapstad vergelyk Motsoaledi geregverdigde kritiek oor die NGV met die apartheidsera se bangmaakpraatjies oor die “swart gevaar”.
Hy sê verder dit is soos toe wit mense kruideniersware en kerse opgegaar het vir wanneer swart heerskappy aanbreek – en hoe hulle agterna “geskok was om te sien Nelson Mandela is ’n mens soos hulle; dalk selfs méér mens as hulle”.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsinginstituut (SNI), is dit onverantwoordelike en oneerlike pogings om ’n internasionale gehoor oor die NGV te paai.
Hy glo Motsoaledi laat heel gerieflik weg dat die meerderheid van Suid-Afrikaners wat aan mediese fondse behoort, én wat teen die NGV gekant is, inderdaad swart mense is.
“Sonder dat hy dit besef, is die minister die een wat ons reguit terugvat na die 1980’s. Dit was toe PW Botha juis die uitdrukking ‘Swart Gevaar’ gebruik het om beleid deur te voer waarmee niemand saamgestem het nie.
“Nou gebruik minister Motsoaledi dit juis om mense te dreig oor wetgewing wat Suid-Afrikaners eenvoudig nie wíl hê nie, en wat ons almal groot skade gaan berokken,” sê Du Buisson.
Volgens Du Buisson toon minister Motsoaledi ook ’n gebrek aan ontsag vir die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) en is dit duidelik hoe sulke roekelose NGV-reklame hierdie eenheid in gedrang kan bring.
“Dit is nou die tyd vir die land om oor vooruitgang te verenig. Om nou wéér op grond van ras te klassifiseer, of om te aanvaar ryk en arm is gelyk aan wit en swart, saai net verdeling.
“Baie van die groepe wat hulle teen die NGV uitgespreek het, is buitendien geensins verteenwoordigend van wit gemeenskappe nie,” sê Du Buisson.
Verder vra Solidariteit waarom die eenvoudigste vrae rakende die NGV nie liewer deur die minister beantwoord word nie.
“Ons wil weet waar die bewyse of die studies is wat toon die NGV is tóg werkbaar. Waar is die bewyse dat dit bekostigbaar is? Die regte stappe is nie gevolg in die opstel van die wetgewing nie.
“Dit is nie ’n ‘swart gevaar’ nie. Almal in die land gaan verarm en dokters gaan die land op strepe verlaat. En nou praat ons van mense en dokters van alle rassegroepe in Suid-Afrika.
“Dit is in almal se belang dat Solidariteit die NGV met sy litigasie stuit,” sê Du Buisson.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel