loading
Mediaverklarings
1 dag gelede
weg-oop-vir-sa-matrieks-om-na-skool-in-afrikaans-te-leer-en-presteer

Foto Krediet: Okay Deer

Weg oop vir SA-matrieks om ná skool ín Afrikaans te leer en presteer

Solidariteit glo ʼn blink toekoms wink vir diegene in die matriekklas van 2024 wie se voorneme is om ná skool aan te hou leer en wat hul vaardighede voortdurend wil opskerp. 
Hierdie jaargroep, wat die skoolbanke met ʼn uitsonderlik hoë slaagsyfer van 87,3% groet, word in die Skoolverlatersverslag, wat in November 2024 deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) in samewerking met Solidariteite se Skoliere-aanbod vrygestel is, as ʼn veerkragtige groep beskryf wat doelgerig planne kan maak om uitdagings te oorbrug.
Volgens Johnell Prinsloo, onderwysnavorser van die SNI, kan leerders, ouers en onderwysers wat hard gewerk het tereg trots voel op die 2024-uitslae.
“Terwyl ons trots is op die prestasies van ons kinders bly dit natuurlik belangrik dat leerders besef matriek was nie die einddoel nie. Dit is in werklikheid die wegspringpunt en hulle matrieksertifikaat is hulle paspoort. Of hulle nou dadelik gaan studeer, eers ’n oorbruggingkursus wil gaan doen of reeds werk en opleiding dáár gaan ontvang, is hierdie sertifikaat een wat hulle eintlik in staat stel om die toekoms met albei hande te kan aangryp. 
“Hierdie jongmense kan hulle van ander onderskei deur nuwe kennis en vaardighede gedurende hul studies en later in hul werk op te doen wat hulle ’n voorsprong in hulle toekoms en loopbaan sal gee,” sê Prinsloo.
In dié verslag word daar uitgelig hoe byna 87% van Afrikaanse matrikulante wat aan die opname van 2024 deelgeneem het, beplan om na skool verder te studeer. 
Meer as die helfte van skoolverlaters wil volgens die verslag in Afrikaans studeer wat ook meeste van die respondente se huistaal was. Daar is ʼn toename in dié behoefte sedert die verslag in 2023 uitgebring is en verdere moedertaalonderrig is ‘n faktor wat bevorderlik vir die suksesvolle voltooiing van kursusse sal wees.
Ten spyte daarvan dat 36% van 2024 se matrikulante aangedui het dat die Covid-19-pandemie ’n negatiewe effek op hulle akademiese en beroepsvooruitsigte gehad het, is dit ook verblydend om uit die studie te sien hoe hulle doelgerig planne kan maak om uitdagings te oorkom om sodoende hulle doel te bereik.
Prinsloo sê dit voorspel ook ʼn goeie toekoms vir hierdie matrikulante.
Die grootste uitdaging is klaarblyklik nie aansoeke om keuring of plek by ’n tersiêre instelling te kry nie, maar wel die finansiering van sodanige studies. 
Volgens Prinsloo het bykans 40% van matrikulante gedurende die opnames vir die 2024-verslag aangedui hulle het nog geen finansiering vir hulle studies verkry het nie. Sy erken dat dit geensins maklik is om studies te finansier nie, maar beklemtoon dat daar verskeie studiehulp-opsies bestaan en dat dit kommerwekkend is as leerders nie van hierdie opsies bewus is nie. 
Solidariteit se Skoliere-aanbod bied ’n verskeidenheid van studiehulp-opsies aan diegene wat graag verder wil studeer. Klik hier vir meer inligting.
“Leerders wat voel dat hulle gebrekkige prestasie in matriek hulle gaan terughou moet ook nie moed opgee nie,” sê Prinsloo.
“Oorbruggingskursusse kan hulle weer op koers kry sodat hulle steeds die studierigting of loopbaan van hul keuse kan volg. Daar is altyd ’n uitweg. Gaan leer, werk hard, leer dan nóg verder en moenie opgee nie.”
Solidariteit verwag in 2025 groeiende getalle by al die opleidingsinstellings van die Solidariteit Beweging, maar moedig skoolverlaters ook aan om gebruik te maak van Solidariteit se Studente-aanbod op Solidariteit.
“Op Solidariteit het ons ook ’n groeiende Afrikaanse netwerk van werk waar werkgewers en werksoekers bymekaar kom, waar internskappe gereël kan word en waar jy verhoudings kan bou vir jou loopbaan wat wag,” het Felicia Richardson, ʼn spesialis verbonde aan Solidariteit se Skoliere-aanbod, gesê. 
Daar is tans meer as 500 aktiewe poste op Solidariteit en meer as 200 werkgewers op soek na geskikte kandidate.
“Solidariteit se Skoliere-aanbod is ongelooflik trots op die matriekklas van 2024. Julle harde werk en deursettingsvermoë is ʼn inspirasie! Mag hierdie mylpaal net die begin wees van ʼn blink toekoms vol geleenthede. Aan die matrikulante van 2025 – Solidariteit staan gereed om jou deur jou matriekjaar te ondersteun. Ontdek hoe óns gratis hulpbronne jou kan help om akademies en emosioneel suksesvol te wees deur ons webwerf te besoek by www.solidariteit.co.za,” het Richardson gesê.
Besigtig die Skoolverlatersverslag van 2024 hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel