
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Internskap vs. ʼn permanente pos: Kry ʼn voorsprong in die werkplek
Voordat jy met ʼn permanente pos begin, is dit dalk wys om eers ʼn internskap te oorweeg. Hierdie artikel wys waarom ʼn internskap jou nie net aan die werkplek blootstel nie, maar jou ook vinniger en meer laat leer sonder die druk van ʼn voltydse pos. Jy ontwikkel professionele vaardighede, bou jou netwerk uit en ontdek jou sterkpunte – alles terwyl jy aan jou CV bou. Lees hier meer oor hoekom ʼn internskap vóór ʼn permanente pos jou loopbaan ʼn voorsprong kan gee.
Deur Kyla-Ann du Toit
Wanneer jy die wêreld van werk betree, wonder jy dalk: “Moet ek dadelik ʼn permanente pos soek of moet ek eerder met ʼn internskap begin?” Albei het ʼn plek in jou loopbaan, maar as jy wil verseker dat jy soveel as moontlik leer, groei en werkplekgereed is, is ʼn internskap die beste keuse voordat jy met ʼn permanente pos begin.
Jy kan meer leer sonder hoë verwagtinge
By ʼn internskapgeleentheid is daar ʼn verwagting dat jy gaan leer – dit is presies wat die rol veronderstel is om daar te stel. Jy kry blootstelling aan verskillende funksies in ʼn onderneming en ontwikkel vinnig vaardighede wat jy in permanente poste sou moes aanleer deur moontlik eers ʼn paar foute te maak.
Armand, ʼn huidige intern, sê hy het nie geweet wat om van sy eerste internskap te verwag nie. “Ek het gedink ek gaan net admin doen, goed ronddra en liasseer-werk doen. Ek was nie seker of ek koffie gaan moet maak of kos gaan moet haal nie. Ek het gedink ek gaan ʼn tipe assistent wees.”
Wat hy egter ervaar het, was heel anders – en baie waardevol!
Jy leer meer oor die werk én die werkplek
“My praatstyl het verander, veral in e-posse. Ek trek baie meer formeel aan. My belangstellings het baie verander en ek voel asof ek vinniger groot geword het,” sê Armand.
Dit is ʼn perfekte beskrywing van hoe ʼn internskap jou op ʼn professionele werkomgewing voorberei. Jy leer nie net meer oor die beroep self nie, maar ook hoe om professioneel op te tree en die verwagtinge wat daar moontlik gaan wees – van hoe om aan te trek tot hoe om te kommunikeer. Dit is die klein dinge in die werkplek waarvan jy nie dadelik sou bewus wees nie.
Jy leer vinniger – en oor meer
In teenstelling met ʼn permanente pos, waar jy ʼn spesifieke rol vervul, gee ʼn internskap jou die geleentheid om verskillende aspekte van ʼn werkplek te ervaar. Dit beteken jy leer nie net vinniger nie, maar jy kry ook ervaring in ʼn wyer spektrum van take en beroepe.
“Doen soveel as moontlik en doen dit tot die beste van jou vermoë,” sê Armand. Dié ingesteldheid is goud werd. Jy ontwikkel jou probleemoplossingsvermoë, leer oor spanwerk en word gemaklik in ʼn professionele werkomgewing – sonder dat jy reeds soos ʼn voltydse werknemer moet presteer.
Die waarde van ʼn internskap vóór ʼn permanente pos
ʼn Internskap help jou om aan jou CV te bou, gee jou werkservaring en help jou om jou belangstellings en sterkpunte in die praktyk te ontdek – én jy bou verhoudings wat verskeie deure in jou loopbaan kan oopmaak.
“Jy gaan in die begin dalk min werk hê, maar dit gaan baie meer word. Jy bou ook vriendskappe en netwerke wat jy nie beplan het nie,” sê Armand.
Solidariteit is hier om jou te help
As jy op soek is na ʼn internskapgeleentheid, begin by Solidariteit se werkfasiliteringsplatform. Jy kan onder meer:
- ✅ hulp kry om ʼn professionele CV op te stel;
- ✅ toegang kry tot internskappe en poste;
- ✅ nagenoeg 150 aanlyn kursusse gratis voltooi (om jou CV te versterk); en
- ✅ deel word van beroepsnetwerke en mentorskapprogramme.
Solidariteit help jou om jou volle potensiaal te bereik – van jou eerste werkservaring tot voltydse werk. Kry dus ʼn voorsprong – begin met ʼn internskap en leer hoe om moeiteloos in die wêreld van werk te floreer. ʼn Internskap is ʼn tydelike rol, maar met blywende voordele.
Soos Armand dit stel: “Wees bereid om altyd die meeste te doen. Moenie bang wees om vrae te vra nie. Wees altyd professioneel en moet nooit laat wees nie.” Jou loopbaansukses begin nie by jou eerste salaris nie – dit begin by jou ingesteldheid om te leer en die ervaring wat jy opdoen. En dít gebeur die maklikste tydens ʼn internskap.