
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Esna Colyn se loopbaanstorie: Hoe mentorskap jou loopbaan kan vorm
In hierdie artikel gesels Esna Colyn met ons oor haar loopbaanreis en hoe kragtig mentorskap vir kantoorpraktisyns kan wees. Hierdie artikel deel inspirerende insigte uit Esna se loopbaan, praktiese raad vir jong kantoorpraktisyns én besonderhede oor ʼn unieke netwerkgeleentheid spesiaal vir kantoorpraktisyns. Lees hier meer.
Deur Kyla-Ann du Toit
In ʼn vinnig-veranderende wêreld waar tegnologie en rolverwagtinge daagliks verskuif, is een ding duidelik: mentorskap is ʼn kragtige geleentheid vir groei. Mentors speel veral ʼn onmisbare rol in administratiewe en kantoorbestuursrolle, waar vaardighede, vertroue en leierskap hand aan hand loop.
Die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk glo aan die waarde van mentorskapgeleenthede – nie net as ʼn leerinstrument nie, maar as ʼn strategie vir langtermynontwikkeling, samewerking en werksbevrediging. Ons het met Esna Colyn, besigheidseienaar en mentor, gesels oor hoe mentorskap haar loopbaan versterk het.
ʼn Loopbaan van groei, geloof en geleenthede
Esna het haar loopbaan met ʼn klerkskap by ʼn ouditeursfirma in Pretoria begin. Van daar het haar loopbaanpad haar na Johannesburg geneem, waar sy in die korporatiewe wêreld – onder meer by PWC, ABN Amro en Investec – ervaring opgedoen het in die veld van privaat ekwiteite. Sy het ook die uitdagings van die vervaardigingsbedryf aangepak voordat sy vir meer as ʼn dekade as uitvoerende hoof van iBLOOM Solutions gedien het.
Benewens die twee Placecol-salonne wat Esna tans besit, het sy onlangs ook begin om haar ware roeping uit te leef. “In 2022 het ek die ongelooflike voorreg gehad om ʼn droom te begin uitleef wat ek reeds in 2014 van God ontvang het – om in Sy koninkryk te werk. Dit het onder meer gelei tot die begin van die proses met die vervaardiging van ʼn film gebaseer op die boek 100 Minutes of Grace deur Karen Coomber, asook die bestuur van Starway Academy – ʼn aanlyn digitale evangelisasiekursus wat geloof, kreatiwiteit en pret kombineer,” vertel sy.
Esna dien ook as mentor vir verskeie vroue en vervul tans volgens haar die belangrikste rol: om ʼn ma vir haar graad 11-dogter, Lienka, te wees.
Indien jy daarin belangstel om om ʼn mentor vir iemand in jou beroep te wees kan Solidariteit se aanlyn mentorskapopleiding die ideale geleentheid vir jou bied om te leer wat die waarde van mentorskap is en hoe jy jou kennis en ervaring met ander kan deel. Solidariteit se kursusse is gratis vir lede.
Die krag van mentorskap
Esna meen ʼn mentor sien dikwels potensiaal in jou wat jy self nog nie raaksien nie, en hulle kan jou help om struikelblokke met geloof en wysheid te hanteer. “Ek was baie geseënd om oor die jare verskeie mentors in my lewe te hê – en dit nog lank voor mentorskap algemeen aanvaar of gewild was,” vertel Esna.
Volgens haar help mentors jou nie net om struikelblokke te oorkom nie, maar ook om jou roeping en potensiaal raak te sien – selfs wanneer jy dit self nie sien nie. Hierdie beskrywing vang presies die wese van mentorskap vas: ondersteuning, vertroue en kennis. Goeie mentors skep nie net ʼn ruimte vir professionele groei nie – hulle inspireer ook persoonlike geloof en selfwaarde.
Solidariteit glo dat om voorspoedig in jou loopbaan te wees, is dit belangrik dat jy die nodige inligting en leiding van kundiges in jou beroep bekom. Daarom bied Solidariteit mentorskapgeleenthede aan om te verseker dat jy jou volle potensiaal kan bereik. Lees hier meer.
Waardevolle lesse en praktiese raad
Esna glo aan leergierigheid en nederigheid as die sleutels tot sukses. “Moenie skaam wees om onder te begin nie – elke tree van die reis bou karakter,” sê sy. Sy herinner ons daaraan dat goeie leiers eers leer om te dien en dat getrouheid in die klein dinge die grondslag lê vir groter verantwoordelikhede.
Haar raad aan jonger kantoorpraktisyns is om nie kortpaaie te soek nie, maar eerder te volhard en met integriteit hul pad na groei te stap. “Wees bereid om jouself voortdurend te verbeter, wees nederig en wees geduldig.”
Netwerkgeleentheid vir kantoorpraktisyns
Op 12 Junie 2025 is Esna die gasspreker tydens Solidariteit se netwerkgeleentheid vir kantoorpraktisyns. Deelnemers kan uitsien na ʼn sessie vol bemoediging, geestelike perspektief en praktiese insig vir beide werk en lewe.
“Ek gaan fokus op hoe elkeen se unieke lig ʼn verskil kan maak – nie net in hul eie lewe nie, maar ook in die lewens van ander,” sê Esna. “Bywoners kan uitsien na ʼn inspirerende sessie wat hulle daaraan herinner hoe belangrik en kosbaar hulle lewe reeds hier op aarde is.”
Sluit vandag nog by die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk-groep aan vir meer inligting oor die netwerkgeleentheid en om op hoogte te bly van die jongste nuus in jou beroep.
Ontdek hoe mentorskap jou eie rol as kantoorpraktisyn kan verdiep en versterk. Ontwikkel jou vaardighede, bou vertroue en neem die geleentheid aan om saam met ander op ʼn betekenisvolle loopbaanpad te stap.