
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Het ʼn onderwyser al jou lewe verander? Nomineer hulle vir Onderwyser van die Jaar!
Vanaf 1 Julie 2025 kan jy ʼn onderwyser nomineer vir die jaarlikse Onderwyser van die Jaar-toekenning. Vind hier uit hoe jy die kosbare onderwysers in jou lewe kan vereer.
Deur Leré Nel
Omtrent elkeen van ons het ten minste een onderwyser gehad wat in ons geglo het, ons aangemoedig en geïnspireer het om ons volle potensiaal te bereik. Tog bly die onderwys oor die algemeen ʼn grootliks ondankbare beroep, en onderwysers se suksesse en bydraes word selde met erkenning of applous beloon.
Onderwysers plant elke dag saad – nie vir hulself nie, maar vir ander. Soms voel dit asof niemand kyk nie. Maar ons sien dit raak. En dis tyd dat die res van Suid-Afrika dit ook sien.
Onderwyser van die Jaar 2025: Hier is jou kans om dankie te sê
Solidariteit se Onderwysernetwerk bied hierdie jaar met trots die vyfde agtereenvolgende Onderwyser van die Jaar–toekenning aan. Hierdie toekenning is meer as net ʼn goue sertifikaat of simboliese lint – dit is ʼn opregte erkenning van die merkwaardige impak wat onderwysers daagliks maak.
Nominasies open op 1 Julie 2025. Enigiemand – ouers, kollegas, oud-leerders of huidige leerders – kan ʼn onderwyser nomineer wat ʼn verskil maak. Jou nominasie kan help om ʼn onderwyser in die Top 10 te plaas, wat hulle die geleentheid gee om hul roeping in ʼn kort video te deel. Dié top 10-kandidate word deur ʼn onafhanklike adviesraad volgens ʼn deursigtige puntestelsel geëvalueer. Die uiteindelike wenners word persoonlik by hul skool met die toekenning verras – ʼn spesiale oomblik van trots en waardering.
ʼn Onderwyser van die Jaar-toekenning word in elk van die volgende kategorieë aangewys:
- Kleuterskoolonderwyser van die Jaar
- Laerskoolonderwyser van die Jaar
- Hoërskoolonderwyser van die Jaar
Elke fase het sy eie uitdagings, sy eie soort impak – en elkeen verdien sy eie ereplek.
Waarom moet jy deelneem of iemand nomineer?
“As jy jou gunstelingonderwyser nomineer, gee jy aan hulle welverdiende erkenning vir hul harde werk en toewyding. Vorige wenners is ook al bevorder of het nuwe loopbaangeleenthede gekry as gevolg van dié toekenning,” verduidelik Anlia Archer, bedryfspesialis en netwerkorganiseerder vir Solidariteit se Onderwysernetwerk.
- As jy iemand ken wat verdien om te wen: Jou nominasie is ʼn manier om “dankie” te sê vir die tyd, liefde en energie wat jou gunstelingonderwyser in ander se lewens belê.
- As jy deel is van die gemeenskap: Hierdie kompetisie is jou kans om die onderwysberoep saam met ons te vier en te wys dat uitstekende onderwysers raakgesien en gewaardeer word.
Wen en ontvang nóg meer as jy aan Solidariteit behoort
Anlia vertel ook dat onderwysers wat lid van Solidariteit is, eksklusiewe voordele ontvang as hulle wen – soos om uitgenooi te word na die gesogte Sterre in die Gemeenskap-glansgeleentheid, waar topindividue uit verskillende beroepe vereer word.
Elke nominasie tel
Selfs al wen ʼn onderwyser nie die groot titel nie, ontvang elkeen wat genomineer word ʼn spesiale “dankie” en erkenning vir hul bydrae tot die beroep. Soms is ʼn eenvoudige “Ons sien jou” genoeg om iemand se passie weer aan te wakker. “Ons wil onderwysers só herrinner dat hulle werk ewigheidswaarde het,” sê Anlia.
Hou Solidariteit se Onderwysernetwerk en ander sosialemediaplatforms dop om op hoogte van hierdie opwindende geleentheid te bly. Begin solank dink oor wie jy wil nomineer!