Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Ombudsman roskam Sunday World oor aantygings van ‘apartheidsvlag’ by Bela-optog
Die persombudsman het Vrydag (10 Januarie 2025) in Solidariteit en AfriForum se guns beslis rakende dié instellings se klagtes teen Sunday World. Dié klagtes hou verband met vals aantygings in ʼn meningsartikel dat die “apartheidsvlag” vertoon sou gewees het tydens die Bela-protesoptog op 5 November 2024 wat deur instellings van die Solidariteit Beweging georganiseer is.
Dit is reeds die tweede keer in die afgelope twee maande dat die persombudsman teen Sunday World in AfriForum se guns beslis. In November 2024 het die ombudsman ook bevind dat die koerant valslik aangevoer het dat AfriForum beweer dat ʼn wit volksmoord in Suid-Afrika aan die gang is, asook dat dié organisasie weier om homself teen moorde op swart mense uit te spreek. Dié valse aantygings is in Augustus 2024 in Sunday World gemaak.
Die mees onlangse beslissing oor klagtes wat AfriForum en Solidariteit by die persombudsman ingedien het, volg na aanleiding van ʼn meningstuk met die opskrif “Moegoe” wat op 10 en 11 November 2024 onderskeidelik in die koerant se gedrukte uitgawe en op koerant se aanlyn platform verskyn het. Die persombudsman het Vrydag bevind dat Sunday World die Suid-Afrikaanse perskode oortree het en beslis dat die koerant in die komende week in sowel sy gedrukte as aanlyn uitgawe ʼn regstelling moet plaas én ʼn verskoning vir die valshede moet publiseer.
In dié artikel word AfriForum as Sunday World se sogenaamde “Moegoe of the week” bestempel terwyl die anonieme skrywer daarin uitvaar teen “sommiges in die Suid-Afrikaanse samelewing wat ʼn skaamtelose spul is.” Sterk kritiek word ook uitgespreek teen die draers van oranje T-hemde by die protesoptog en daar word ʼn verband getrek tussen die gebruik van “apartheidsimbole” en die vertoon van Nazi-simbole in die openbaar in Duitsland – dit ten spyte daarvan dat geen sogenaamde “apartheidsimbole” by die optog vertoon is nie.
In sy bevinding sê die adjunkpersombudsman, Franz Krüger, klousule 1.3 van die perskode is oortree deurdat ʼn ongegronde bewering – dat die “apartheidvlag” by die Bela-protesoptog vertoon is – as ʼn feit voorgehou is.
Benewens die regstelling en verskoning onder ʼn opskrif wat die woorde “verskoning”, “AfriForum” én “Solidariteit” moet bevat, het Krüger ook beslis dat Sunday World ʼn opsomming van die uitspraak moet publiseer.
Solidariteit en AfriForum verwelkom die uitspraak en vertrou dat Sunday World en sy redakteur die bevinding sal eerbiedig.
“Die tweede bevinding wat nou in AfriForum se guns teen Sunday World gemaak is, moet ʼn baie duidelike boodskap stuur aan dié koerant en ander media wat leuens oor AfriForum en Solidariteit verkondig en wys dat ons daadwerklik sal optree teen diegene wat valshede versprei,” benadruk Ernst van Zyl, hoof van Openbare betrekkinge by AfriForum.
Pieter Jordaan, bestuurder van nuus en publisiteit by Solidariteit, sê die doel met onverantwoordelike aantygings soos dié is om die geloofwaardigheid en reputasie van Solidariteit en AfriForum – en in dié geval ook die Bela-protesoptog af te takel.
“Die poging het gelukkig volkome misluk en dit is veel eerder die publikasie se geloofwaardigheid wat skipbreuk ly. Dit behoort ʼn les vir die Sunday World en ander kommentators te wees. “Die Bela-optog was in werklikheid ʼn noodsaaklike, suksesvolle en ordelike byeenkoms waartydens Afrikaners se gevoel oor die aangeleentheid van moedertaalonderrig so duidelik as moontlik beklemtoon is. Dit is ʼn stryd wat in 2025 volstoom voortgesit gaan word,” sê Jordaan.
Sien die uitspraak aangeheg.