loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
ngv-vir-alle-praktiese-doeleindes-bokveld-toe

Fotokrediet: Pexels

NGV vir alle praktiese doeleindes bokveld toe

Deur Robin-Lee Maré

Die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is vanjaar vir alle praktiese doeleindes tot stilstand gebring danksy Solidariteit se regstryd teen dié omstrede Wet. Tog dui onlangse berigte op die voortgesette misbruik van fondse wat vir die NGV begroot is.

Ingevolge ’n tussentydse skikking in die hooggeregshof in Pretoria, wat deur Solidariteit gefasiliteer is, mag die NGV nie geïmplementeer word voordat die betrokke hofproses in die Konstitusionele Hof afgehandel is nie.

Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), besef Suid-Afrikaners nie noodwendig die omvang van dié oorwinning nie.

“Solidariteit het oor die jare heen aan Suid-Afrikaners gewys waarom die NGV nie in hul belang is nie en waarom die land dit eenvoudig nie kan bekostig nie. Die NGV kan jou uiteindelik meer aan belasting kos as wat jy tans vir jou mediese fonds betaal,” sê Du Buisson.

Intussen wek berigte oor beweerde korrupsie met die toekenning van advertensiekontrakte wat uit NGV-fondse gefinansier word, verdere kommer. Hoewel veldtogte oor onder meer tuberkulose noodsaaklik is, is die wyse waarop kontrakte toegeken word, kommerwekkend. Dit sluit kontrakte in wat na bewering aan ondernemings met belastingongerymdhede toegeken is.

“Die NGV is nog nie eens geïmplementeer nie dan is daar reeds bewerings van korrupsie rondom die besteding van dié fondse. Dit bied ’n voorsmakie van wat Suid-Afrikaners te wagte kan wees indien die staat beheer oor die land se gesondheidsorgfinansiering verkry,” sê Du Buisson.

Solidariteit sal voortgaan om hom teen die NGV te verset en Suid-Afrikaners se toegang tot bekostigbare en gehaltegesondheidsorg te beskerm.

Op Vrydag 27 November 2026 sal die Konstitusionele Hof ook uitspraak lewer oor twee afsonderlike aansoeke waarin die wetgewer se openbare deelnameproses rakende die NGV-wetsontwerp betwis word. Die aansoeke is deur die Board of Healthcare Funders (BHF), ’n bedryfsvereniging vir mediese skemas en administrateurs, en die Wes-Kaapse regering aanhangig gemaak.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel