Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
Immigrasie, Oekraïne en ekonomiese druk toets Europa se politieke koers
Caria van der Merwe
Europa se politieke koers word toenemend beïnvloed deur moeilike vrae oor immigrasie, nasionale identiteit, die oorlog in Oekraïne en die toekoms van die vasteland se nywerhede.
Dié uitdagings en ander was die onderwerp van ’n gesprek by Solidariteit op Woensdag 25 November. Axel Kassegger, voormalige parlementslid van Oostenryk se Freiheitliche Partei Österreichs (FPÖ), en Johan Deckmyn, Vlaamse parlementslid en deelstaatsenator in die Belgiese Senaat, het hul perspektiewe op Europa se politieke landskap gedeel. Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, het die gesprek gelei.
Immigrasie en kulturele identiteit
Een van die duidelikste breuklyne in die Europese politiek is immigrasie. Kassegger het die druk op openbare dienste, taalvaardigheid en die integrasie van immigrante bespreek. Hy het aangevoer dat regerings groter verantwoordelikheid teenoor hul eie burgers moet aanvaar en die FPÖ se standpunt oor remigrasie toegelig.
Deckmyn het die debat verder gevoer deur op die verband tussen immigrasie en kulturele identiteit te fokus. Volgens hom het groot getalle immigrante die potensiaal om Europese lande se kulturele karakter te verander. Hy meen politieke partye kan nie kiesers se kommer oor hierdie kwessie ignoreer nie. Hy het ook verwys na sterker grensbeheer en die terugstuur van immigrante wat misdade pleeg as deel van sy voorgestelde benadering tot immigrasie.
Die bewaring van kulturele identiteit gaan ook oor die behoud van dit wat Europese gemeenskappe se taal, tradisies en waardes vorm. Die uitdaging is om immigrasie en integrasie só te bestuur dat lande hul eie kulturele erfenis kan behou.
Oekraïne en Europa se ekonomiese uitdagings
Die oorlog in Oekraïne en Europa se reaksie daarop het ook deel van die gesprek uitgemaak. Kassegger het die koste van die oorlog en Oostenryk se finansiële betrokkenheid bevraagteken en aangevoer dat die land eerder op ’n oplossing moet fokus. Deckmyn het op sy beurt beklemtoon dat ondersteuning aan Oekraïne ’n morele plig is, maar het onderskei tussen steun aan die land en steun aan die voortsetting van die oorlog.
Die gesprek het ook Europa se ekonomiese toekoms aangeraak. Kassegger het de-industrialisering as ’n ernstige bedreiging beskryf en hoë energiekoste, oormatige burokrasie en onvoldoende aandag aan tegniese opleiding as faktore uitgelig wat Europese nywerhede se mededingendheid benadeel.
Die gesprek het ’n blik gebied op die politieke debatte wat tans in Europa woed en die verskillende benaderings wat politieke partye tot dié uitdagings volg. Met belangrike verkiesings wat voorlê, waaronder Frankryk se presidensiële verkiesing in 2027, sal dit duideliker word watter invloed hierdie kwessies op Europa se politieke rigting gaan hê.
Kasegger en Deckmyn is tans op ’n besoek aan Suid-Afrika waar hulle saam met Solidariteit ook van plaaslike uitdagings en oplossings gaan hoor en kans gaan kry om hulle insigte te deel.