Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Munisipale rekeninge verhoog druk op Suid-Afrikaanse skole
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het ʼn dringende vergadering met die minister van onderwys, Siviwe Gwarube, aangevra om moontlike oplossings vir die toenemende kostedruk op skole in Suid-Afrika te bespreek. Die versoek kom na aanleiding van Panyaza Lesufi se uitlating dat dienste by skole met agterstallige munisipale rekeninge summier afgesny moet word. Hierdie standpunt toon ʼn skreiende gebrek aan begrip vir die staat se rol en verantwoordelikheid in openbare onderwys.
Onvoldoende staatsfinansiering
Die huidige finansiële toewysings van die staat aan skole is uiters beperk, met kwintiel 5-skole wat slegs R289 per leerder per jaar ontvang. Volgens Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS, is dit onrealisties om te verwag dat skole met sulke beperkte fondse die basisdienste soos munisipale koste en onderwysinfrastruktuur sal kan dek. “Die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement het vanjaar nie eers die minimum toewysing vir skole uitbetaal nie, wat verdere druk op skole in dié provinsie plaas,” sê Buys.
Buys wys verder daarop dat navorsing wat die SOS in 2022 gedoen het, aangetoon het dat hierdie beperkte toewysing in die meeste Gautengse skole skaars genoeg is om twee maande se munisipale rekeninge te dek.
Die staat se verantwoordelikheid vir eiendomsbelasting
As die eienaar van die grond waarop openbare skole geleë is, het die staat ʼn verpligting om eiendomsbelasting te betaal. Hierdie belasting maak dikwels ʼn beduidende deel uit van skole se munisipale rekeninge. In talle gevalle betaal skole selfs hierdie belasting namens die staat om te voorkom dat dienste afgesny word, wat die finansiële druk op hulle verder verhoog.
Munisipale koste: skole se stryd
Navorsing toon dat kwintiel 4 – en 5-skole wat skoolgeld hef, reeds in 2019 tussen R40 000 en R70 000 per maand aan munisipale uitgawes bestee het. Sommige skole moes selfs meer as R100 000 per maand aan munisipale rekeninge betaal. Hierdie koste het ʼn direkte impak op die skoolfonds, wat dikwels jaarliks moet styg, veral in stedelike gebiede.
Foutiewe munisipale rekeninge is ook ʼn groot probleem, aangesien munisipaliteite dikwels maande neem om foute reg te stel. Dit lei tot hoër skoolfooie as gevolg van die verhoogde koste van basiese dienste soos water, krag en afvalverwydering.
Verskille in munisipale bestuur
Die finansiële druk is nie eweredig oor die land versprei nie. Wes-Kaapse skole bestee minder aan munisipale dienste as skole in Gauteng. Dit kan grootliks toegeskryf word aan beter politieke bestuur en administratiewe doeltreffendheid in die Wes-Kaap. Bernard Pieterse, hoof van plaaslike regering by die Kaapse Forum, verduidelik dat die deursigtigheid en verantwoordbaarheid van munisipaliteite in die Wes-Kaap ʼn beduidende invloed op skole se begrotings het.
Die Solidariteit Onderwysernetwerk is ʼn tuiste vir onderwysers waar onderwysers se regte in die onderwyssektor beskerm word en daarom lê hierdie kwessie dié netwerk na aan die hart.
“Die Solidariteit Onderwysernetwerk betreur die staat se voortgesette versuim om die belange van skole en leerders te prioritiseer. Deur onvoldoende befondsing, nalatigheid in eiendomsbelasting en die afskeep van munisipale rekeninge, plaas die regering onregverdige finansiële druk op skole, wat die gehalte van onderwys direk benadeel.
“Die staat moet verantwoordelikheid aanvaar vir sy mislukkings in die onderwyssektor en dringende stappe doen om skole beter te ondersteun en volhoubare oplossings vir hierdie krisis te implementeer,” sê Johan Botha, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris vir die professionele sektor.
Oplossings en aanbevelings vir skole
Om die finansiële druk op skole te verlig, stel die SOS verskeie aanbevelings voor:
- Nader plaaslike raadslede en indien nodig, verklaar ʼn dispuut met die munisipaliteit oor foute of hoë koste.
- Beperk waterverbruik deur lekkasies betyds te herstel.
- Onderhandel meer bekostigbare krag- en watertariewe met munisipaliteite.
Die SOS se vergadering met die minister van onderwys
Die SOS beplan om hierdie kwessies met die minister van onderwys te bespreek om maniere te vind om die druk op skole te verlig en die volhoubaarheid van gehalteonderwys te verseker.
Die SOS se betrokkenheid by hierdie proses beklemtoon die kritieke rol van die staat en munisipaliteite in die handhawing van gehalteonderwys in Suid-Afrika en die dringendheid van die situasie om ʼn volhoubare onderwysstelsel te verseker.