loading
Artikels
12 uur gelede
die-krag-van-kunsmatige-intelligensie-in-die-klaskamer

Foto Krediet: OkayDeer

Die krag van kunsmatige intelligensie in die klaskamer

Deur Valentyn van der Merwe, die hoof van innovasie by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Die vooruitgang in tegnologie het verskeie aspekte van ons daaglikse lewe radikaal verander, en die onderwyssektor is geen uitsondering nie. Kunsmatige intelligensie (KI) speel toenemend ʼn belangriker rol in moderne klaskamers en bied innoverende oplossings vir sommige van die grootste uitdagings in die onderwys.

Waarna verwys KI in die klaskamer?

KI verwys na die gebruik van gevorderde tegnologie wat in staat is om take te outomatiseer en data te interpreteer om onderrig te verbeter. Hierdie tegnologie stel opvoeders in staat om datagedrewe besluite te neem en leerders te ondersteun op maniere wat voorheen nie moontlik was nie. KI word in die klaskamer toegepas in die vorm van slim tutoriaalstelsels, outomatiese assessering en persoonlike leerroetes. Hierdie hulpmiddels maak dit moontlik om ʼn meer verpersoonlikte en effektiewe leerervaring aan leerders te bied.

Maak onderwysers se las ligter

Een van die mees onmiddellike voordele van KI is sy vermoë om onderwysers se administratiewe las te verlig. Toetse en opdragte kan vinnig opgestel en gemerk word, wat tyd beskikbaar stel vir die hoër vlakke van onderrig en vir individuele aandag aan leerders. KI kan groot hoeveelhede data analiseer en nuttige insigte oor leerders se vordering en uitdagings verskaf.

Die KI-opleiding by die SOS fokus daarop om opvoeders en leerders in staat te stel om KI effektief en eties te gebruik. Ons program sluit interaktiewe aktiwiteite in, soos die gebruik van Mentimeter om kennis te toets en vrae te bespreek; Google Lens vir praktiese toepassings; en ChatGPT vir vertaling, gesprekke en die skep van opvoedkundige leerervarings. Hierdie sessies sluit ook werksessies in wat fokus op die saamstel van werkkaarte en basiese “prompt engineering”. Ons streef daarna om nie net tegniese vaardighede oor te dra nie, maar ook om die kritiese denke wat benodig word om KI suksesvol in die klaskamer te integreer, aan te moedig.

Hoekom is KI in die klaskamer belangrik?

Die moderne onderwyslandskap vereis kreatiewe oplossings om diversiteit en unieke leerbehoeftes te akkommodeer. KI het die potensiaal om die gehalte van onderrig te verbeter en elke leerervaring meer inklusief en effektief te maak. Volgens Unesco se2024-moniteringsverslag van globale onderwys (die sogenaamde GEM Report) speel KI ʼn sleutelrol in onder meer die volgende:

  • • Die oorbrugging van ongelykhede: KI stel leerondersteuning en digitale hulpbronne beskikbaar aan leerders in afgeleë of onderbediende gebiede.
  • • Verbeterde insluiting: Deur persoonlike leerroetes te skep, help KI leerders met spesifieke leerprobleme om teen hul eie pas te vorder.

Tog bring hierdie vooruitgang ook uitdagings mee, soos beperkte internettoegang in sekere dele van die wêreld, wat toegang tot die volle potensiaal van KI beperk.

Statistieke

Unesco se 2024-verslag toon dat slegs 40% van laerskole wêreldwyd internetverbinding vir opvoedkundige doeleindes het. In lidlande van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso) het 65% van die onderwysers aangedui dat hulle digitale vaardighede ontwikkel het om KI en ander tegnologie in hul klaskamers in te sluit. Hierdie statistieke beklemtoon die potensiaal, maar ook die behoefte aan beter infrastruktuur en opleiding.

In die regte hande kan ChatGPT leerders se akademiese begronding versterk; maar dit kan ook die lui een benadeel

ChatGPT, soos ander KI-tegnologie, bied kragtige leerhulpmiddels deur onmiddellike antwoorde en verduidelikings te gee. Dit bevorder onafhanklike leer en kritiese denke. Tóg is daar risiko’s daaraan verbonde. As leerders hierdie hulpmiddels as ʼn kortpad gebruik eerder as ʼn hulpmiddel, kan dit tot oppervlakkige kennis lei. Dit is dus noodsaaklik dat opvoeders en ouers toesig hou oor hoe KI in die leerproses gebruik word om balans tussen outonomie en verantwoordelikheid te verseker.

Die integrasie van KI in die klaskamer vereis ʼn strategiese en gebalanseerde benadering om die voordele te benut en moontlike nadele te beperk. Deur samewerking tussen onderwysers, beleidmakers en tegnologie-ontwikkelaars kan KI opvoedkunde transformeer en verbeter.

KI is ʼn hulpmiddel met ongelooflike potensiaal in die klaskamer. Wanneer dit reg aangewend word, kan dit nie net ʼn revolusie in die onderwys teweegbring nie, maar dit verseker ook dat leerders die gereedskap het om in ʼn digitale wêreld uit te blink.

Die Solidariteit Onderwysernetwerk stel homself ten doel om ʼn beroepsgemeenskap vir onderwysers in Afrikaanse skole te skep waardeur die beroep beskerm en bevorder kan word.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel