loading
Mediaverklarings
1 dag gelede
onderwysers-betaal-die-prys-vir-saro-se-administratiewe-wanorde

Foto Krediet: Solidariteit

Onderwysers betaal die prys vir SARO se administratiewe wanorde

Solidariteit neem met ernstige kommer kennis van die chaos wat tans by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO) heers, waar duisende onderwysers se professionele registrasies in gedrang is weens administratiewe wanorde. Lees meer hieronder.


plaas daarvan om op hul kernverantwoordelikheid – die onderrig van leerders – te fokus, word onderwysers nou genoop om self by SARO se kantore in Centurion en Johannesburg aan te meld – dikwels onder aansienlike tydsdruk en ten koste van hul verlof – in ʼn poging om basiese dokumentasie reg te stel.
Volgens Johnell Prinsloo, onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), word onderwysers se beroepe in gevaar gestel omdat SARO weens interne slordigheid hul sertifikate herroep of ongeldig verklaar het – sonder voorafgaande waarskuwing of duidelike kommunikasie. In baie gevalle is onderwysers se name eenvoudig uit die databasis verwyder, terwyl hulle intussen steeds wettig geregistreer was.
Alhoewel die situasie blykbaar grootliks opgelos is – persoonlike inligting en kwalifikasies is na bewering opgedateer – bly hierdie wanorde ʼn bron van angs en onsekerheid vir talle onderwysers in Gauteng.
“Dit is onaanvaarbaar dat SARO, wat veronderstel is om ʼn professionele liggaam te wees, só roekeloos met mense se loopbane omgaan,” sê Prinsloo. “Ons het reeds talle klagtes ontvang van lede wat hul posisie of inkomste kan verloor omdat hul registrasiestatus by SARO skielik in twyfel getrek word.”
Die situasie het daartoe gelei dat honderde onderwysers hulself in lang toue voor SARO se kantore bevind – op hul eie koste – sodat hul onderrigstatus weer bevestig kan word. Intussen heers daar onsekerheid by skole waar departementshoofde nie weet of hul personeel tegnies gesproke in aanmerking kom om in die klaskamer te staan nie.
Solidariteit beskou hierdie wanorde as ʼn ernstige bedreiging vir onderrigstabiliteit en onderwysers se regte, en eis onmiddellike optrede van SARO om die probleem op te los.
“Onderwysers kan nie toekomsbouers wees as hul eie professionele bestaansreg ondermyn word deur die nalatigheid van ʼn organisasie wat veronderstel is om hulle te dien nie,” sluit Prinsloo af.
Solidariteit sal voortgaan om namens sy lede op te tree en sal nie skroom om verdere stappe te neem indien onderwysers hul werk kwyt raak weens onbillike optrede deur SARO en die departement van onderwys nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel