
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Bereik só ʼn balans tussen jou werk en persoonlike lewe
Is ʼn werk-lewe-balans net ʼn mooi ideaal – onbereikbaar in ʼn veeleisende beroep soos onderwys? Anlia Archer, bedryfspesialis en organiseerder vir Solidariteit se Onderwysernetwerk, is ook ʼn oud-onderwyser en sy glo dit is moontlik. Sy deel hier goue wenke oor hoe jý dit kan baasraak!
Deur Leré Nel
In ʼn beroep wat daagliks jou tyd, energie en emosionele betrokkenheid vereis, is dit noodsaaklik om strategieë te hê wat jou teen uitbranding beskerm. Anlia Archer deel praktiese raad uit haar eie ervaring oor hoe onderwysers balans kan handhaaf – en verduidelik waarom dit so belangrik is.
Leer om te kompartementaliseer
Een van die belangrikste lesse wat Anlia oor die jare geleer het, is om duidelike grense tussen werk en haar persoonlike lewe te trek.
“Wanneer ek by die skoolhek inry, is ek Juffrou Archer. Wanneer ek uitry, is ek Anlia – vrou, ma, dogter en vriendin. Die geheim is om ten volle in elke rol teenwoordig te wees en nie jou huislike sake skool toe of skoolsake huis toe te bring nie,” verduidelik sy.
Hierdie vermoë om jou rolle te kompartementaliseer, is nie iets wat jy oornag kan baasraak nie. Dit neem tyd en oefening – maar dit bring groot vrede sodra jy dit uiteindelik regkry.
Stel grense – en hou daarby
Onderwysers moet doelbewus grense stel, sê Anlia.
“Gee vir ouers ʼn spesifieke tyd waartydens hulle jou mag kontak. Moenie om 22:00 nog op WhatsApp-boodskappe reageer nie. Jou gesin verdien jou onverdeelde aandag.”
As jy self nie jou eie tyd respekteer nie, kan jy ook nie verwag dat ander dit sal doen nie. “Maak dus seker dat jy nie ná ʼn sekere tyd meer op boodskappe vanaf ouers reageer nie, en stel daardie grense vir jousélf vas – tensy jou skool natuurlik reeds ʼn beleid hieroor het.”
Moenie werk onnodig huis toe bring nie – leer om goed te beplan
Alhoewel dit soms onvermydelik is vir onderwysers om buite skoolure te werk, glo Anlia dat dit beperk kan word: “As jou beplanning en administrasie in orde is, verminder jy die waarskynlikheid om hope onvoltooide werk huis toe te neem. Beplanning is jou beste wapen teen oorlading.”
Nog ʼn goeie wenk is om vir jouself ʼn roetine te skep om elke dag mee af te sluit – selfs al is dit iets klein soos om jou lessenaar reg te pak of ʼn vinnige doenlysie vir môre te maak. Dit help jou om te kompartementaliseer en te besef dat die werksdag nou verby is.
Leer om respekvol “nee” te sê
Veral jong onderwysers sukkel hiermee, waarsku Anlia: “Jy mág ‘nee’ sê – maar doen dit op ʼn respekvolle manier. Verduidelik jou redes duidelik en professioneel. Jy het die reg om jou eie perke te beskerm.”
Deur beslis te wees sonder om aggressief oor te kom, help jy om jou professionele reputasie te bou én jou geestesgesondheid te beskerm.
Bou jou ondersteuningsnetwerk
Niemand behoort alleen te funksioneer nie. ʼn Betroubare ondersteuningsnetwerk maak ʼn reuseverskil – veral vir ʼn onderwyser. Bou verhoudings met jou kollegas en ook met onderwysers by ander skole.
“Dit is belangrik om kollegas of mentors te hê by wie jy kan klankbord, afpak en raad vra. Solidariteit se Onderwysernetwerk is juis daar om hierdie ondersteuning te bied,” sê Anlia.
As jy ʼn jong onderwyser is en nog nie ʼn sterk netwerk opgebou het nie, stel sy voor dat jy ʼn mentor kry: “Ons het onderwysers in die Onderwysernetwerk wat hulself as mentors beskikbaar stel. Kontak ons gerus by onderrig@solidariteit.co.za as jy ondersteuning nodig het.”
ʼn Gebalanseerde onderwyser is ʼn doeltreffende onderwyser
Balans is nie net belangrik vir jou eie welstand nie – dit beïnvloed ook jou leerders. As jy gesond is, straal dit uit na jou klas, hul gesinne en die hele gemeenskap. As jy uitbrand, ly almal daaronder.
Anlia sê ook dat skole ʼn rol kan speel deur administratiewe druk te verlig en ruimte vir menslikheid en ondersteuning te skep. Sy doen ʼn beroep op skole om strategieë te implementeer wat onderwysers voldoende kan ondersteun. “As dit goed gaan met ʼn skool se onderwysers, sal dit goed gaan met die leerders, hul gesinne en uiteindelik sal die hele gemeenskap daarby baat vind.”
In onderwys is jou vreugde, energie en passie jou grootste bates. Moenie toelaat dat uitbranding dit by jou steel nie. Lees hier meer oor uitbranding onder onderwysers.
Bly ingeskakel by Solidariteit se Onderwysernetwerk vir nog hulpmiddels en ondersteuning in jou beroep.