
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Uitbranding as onderwyser: ’n Realiteit wat nie langer geïgnoreer kan word nie
Uit die pen van Gimnasium Pretoria se uitvoerende hoof, Louis Dekker, kom raad en bemoediging aan onderwysers. Uitbranding onder onderwysers is ʼn realiteit wat nie langer geïgnoreer kan word nie. Lees gerus meer.
Deur Louis Dekker
Terwyl ek hier sit en tik, besef ek duidelik twee dinge:
- Ek preek vir myself – ja, ek self is skuldig!
- Hierdie beginsels klink ideaal en soms voel dit of dit glad nie haalbaar is nie.
Maar, ten spyte daarvan móét ons probeer!
Jy het waarskynlik al van hierdie wenke gehoor – soms selfs al talle kere. Maar soms moet ons dit weer hoor, veral van ’n mede-onderwyser af. Want jy is nie alleen nie.
Die druk op onderwysers neem toe
Internasionaal is daar ’n tekort aan onderwysers en veral aan onderwysleiers. Daar is druk van alle kante af:
- Skole wil presteer om hulleself te bemark
- Ouers verwag die beste vir hul kinders
- Staatsdepartemente stel meer en meer vereistes
… en al daardie druk (en nog vele meer) land op jou as onderwyser se skouers.
Uitbranding onder onderwysers is nie ’n mite nie
Twee afsonderlike studies in die Verenigde Koninkryk het skokkende bevindings opgelewer:
- 62% van onderwysers voel hulle werkslading het dramaties toegeneem.
- 75% van onderwysers ervaar ’n afname in hulle algemene welstand as gevolg van werkverwante spanning.
Die oorsake van hierdie uitbranding hoef ek waarskynlik nie aan jou te verduidelik nie, maar hier is ʼn lys:
- Akademiese vereistes
- Buitemuurse betrokkenheid
- Administratiewe las
- Ouers met hoë verwagtinge
- Die eis van konstante beskikbaarheid
En dan is daar nog die huis, jóú kinders, kerk, familie en vriende …
Werk-lewe-balans: Realisties of net ’n illusie?
Die bekende term werk-lewe-balans klink maklik om te handhaaf, maar dié balans is selde perfek. Ek glo nie dit moet of kan daagliks, of selfs weekliks bereik word nie. Dink eerder aan balans oor die lang termyn:
- Deur ’n gewone werksweek: Vyf werksdae teenoor twee dae vir rus en jou gesin (Dit is nou natuurlik buiten die buitemuurs, voorbereiding en merkwerk wat gedoen moet word!)
- Deur die jaar: Skoolvakansies bied (soms, sonder sporttoere en die bogenoemde) geleentheid vir herstel.
Dis nie perfek nie, maar dit bied ten minste kans vir asemhaal.
Wat kan jy self doen?
By die skool:
- Stel grense — moenie alles vir almal probeer wees nie.
- Beperk jou tye waar jy e-pos en kommunikeer, en monitor jou beskikbaarheid.
- Maak tyd vir iets wat vir jou vreugde of ontspanning bring, al is dit net 10 minute ʼn dag.
- Gebruik tegnologie (“apps”) om kommunikasie te vereenvoudig, nie te kompliseer nie.
- Beplan en skeduleer oor die kort- én langtermyn en hou daarby.
By die huis:
- Beperk huiswerk, en rig ’n vaste werkspasie in indien nodig.
- Skeduleer aftyd net soos wat jy vergaderings sou skeduleer.
- Sit die tegnologie neer — jou brein het rus nodig.
- Moenie ná ure nog oor werk praat nie; bou gesonde gesprekke en verhoudings.
- Maak tyd vir oefening, selfs net ’n vinnige stappie.
Persoonlike en emosionele versorging:
- Beoefen bewustheid (“mindfulness”) en streshantering.
- Soek professionele hulp indien nodig.
- Bly in kontak met vriende, familie en jou netwerk/gemeenskap — moenie vergeet wie jy buite die klaskamer is nie.
Wat kan skole en bestuur doen?
- Stel duidelike doelwitte en prioriteite.
- Bied werkswinkels oor tydsbestuur en selfversorging aan.
- Skep ruimte vir breuke en rus.
- Beperk e-posse en WhatsApps wat nauurs gestuur word.
- Stel riglyne vir tegnologiegebruik.
- Ondersteun professionele ontwikkeling binne normale werksure.
- Delegeer verantwoordelikhede – moenie alles by een persoon laat nie.
- Beloon prestasie en nie net akademies nie – vier jou personeel se menswees!
Hierdie is nie ’n lys met maklike oplossings nie. Dit is dalk net ’n herinnering; ’n aanmoediging; ’n oproep tot selfbewaring.
Jy gee jouself elke dag vir ander. Onthou om vir jouself ook tyd te gee.
Solidariteit se onderwysernetwerk is jou vennoot in die werkplek. Bly ingeskakel op die Onderwysernetwerkgroep en word bemagtig en bemoedig deur ʼn organisasie wat regtig omgee oor jou werk én jou welstand.