loading
Artikels
20 uur gelede
bela-wet-afrikaanse-skole-moet-voorbereid-wees

Foto Krediet: OkayDeer

Bela-wet: Afrikaanse skole moet voorbereid wees

Deur Kyla-Ann du Toit

Afrikaanse skole moet dringend hul beleidsdokumente en kapasiteitsbepalings op datum bring om hul regte en identiteit te beskerm!

Solidariteit, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en AfriForum spreek ernstige kommer uit oor die politieke en administratiewe druk wat skole toenemend ervaar om hul taal- en toelatingsbeleide aan te pas.

Hierdie druk ontstaan dikwels uit ʼn verdraaiing van die wetgewing. Volgens Marius Botha, onafhanklike onderwysbestuurskonsultant, is dit duidelik dat sekere distriksamptenare reeds opleiding ontvang het, gebaseer op ʼn eensydige en potensieel strydige interpretasie van die nuwe gepubliseerde riglyne rakende leerderplasing en taalbeleid. “Amptenare is nie net toegerus nie, maar [word] aktief opgelei om hierdie interpretasie as operasionele opdrag uit te voer,” sê Botha.

Dit is ʼn ernstige bedreiging vir onderwysvryheid – en veral vir die voortbestaan van Afrikaanse moedertaalonderrig.

Wees voorbereid of verloor beheer

Met die aanlyn aansoekstelsel vir graad 1- en graad 8-leerders in Gauteng wat op 24 Julie 2025 open, is dit noodsaaklik dat skole vooraf regmatig moet voorberei. Die SOS beklemtoon dat skole wat nie hul kapasiteit en beleid behoorlik dokumenteer nie, ʼn belangrike regsbasis verloor.

Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, sê dat ʼn geldige kapasiteitsbepaling nie bloot administratief van aard is nie; dit is ʼn sleutelkomponent om te help om toekomstige aanslae op Afrikaanse skole af te weer. “Daar bestaan steeds ʼn oneweredige aanslag op Afrikaanse skole,” sê Fourie. “Dit verhoog die risiko van oorplasings en politieke druk, wat dit nodig maak om op hierdie aanslag te reageer.”

Die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (ook bekend as die Bela-wet) bepaal dat ʼn skool slegs sy taalbeleid kan handhaaf as hy oor ʼn geldige kapasiteitsbepaling én ʼn wetlik geldige toelatingsbeleid beskik. Sonder hierdie dokumentasie is skole kwesbaar vir regs- en politieke inmenging.

Ouers, onderwysers en beheerliggame se ondersteuningsraamwerk

Daar word ʼn beroep op ouers en beheerliggame gedoen om aktief by hul skole betrokke te wees. Ouers word ook daaraan herinner om hul kinders se aanlyn aansoeke betyds in te dien. “Dit is noodsaaklik dat ouers, beheerliggame en die personeel van skole die prosesse om beleide te bepaal, kapasiteit vas te stel en registrasies te hanteer, noukeurig volg,” sê Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum. “Dit sal help om te voorkom dat leemtes geleenthede skep vir amptenare om druk op skole te plaas.”

Solidariteit is daartoe verbind om alles moontlik te doen om ʼn veilige omgewing vir onderwysers te skep om te kan werk. “Ons wil nie hê hulle moet oor politieke kwessies bekommerd wees nie,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Lees hier meer oor die Bela-riglyne en hoe Solidariteit bystand kan verleen.

Die SOS stel binnekort ʼn praktiese gids beskikbaar om skole te help om hul kapasiteit regmatig vas te stel. Hierdie gids sal dien as belangrike hulpmiddel om taal- en toelatingsbeleide te versterk en dit behoort in noue samewerking met skoolbeheerliggame geïmplementeer te word.

Indien skole enige vorm van druk van onderwysowerhede ervaar, moedig Solidariteit hulle aan om dringend vir regsadvies en ondersteuning uit te reik. Dit is belangrik dat skole, ouers en gemeenskappe ingelig bly en voortgaan om saam te veg vir hul taal en hul kinders se toekoms.

Afrikaanse onderwys is nie onderhandelbaar nie. Moenie toelaat dat ʼn staatsamptenaar jou intimideer nie – klik hier!

Lees Solidariteit, die SOS en AfriForum se mediaverklaring hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel