loading
Mediaverklarings
2 dae gelede
selfs-groter-bloedbad-dreig-weens-afleggings-in-staalbedryf

Foto Krediet: Okay Deer

Selfs groter bloedbad dreig weens afleggings in staalbedryf

ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) het sy werknemers in kennis gestel dat die maatskappy voorberei om sy langstaalfabrieke te sluit en om met massa-afleggings van meer as 4000 poste te begin. Hierdie sluiting, en die gevolglike afleggings, is uitgebrei na Vanderbijlpark-fabrieke ook en is toegeskryf aan die regering se onvermoë en sy gesloer om oplossings vir die strukturele probleme wat onder sy beheer val, te vind.

Amsa het die kennisgewings ingevolge die vereistes vir formele afleggingsprosesse uitgereik en dit sal vanaf 1 September 2025 in werking tree. Volgens die kennisgewing kan die fabrieke,  dus aan die einde van die maand sluit.

Volgens Amsa is hierdie drastiese stap genoodsaak nadat alle pogings om die bedryf volhoubaar te hou, misluk het. Dié staalvervaardiger wys in hierdie verband op probleme soos stygende invoertariewe, onvoldoende tariefbeskerming, buitensporige elektrisiteitsonkoste en ʼn duur en disfunksionele spoorvervoerstelsel, asook dalende plaaslike aanvraag na sy produkte.

Volgens Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, moet die skuld vir die sluiting vierkantig voor die regering se deur gelê word.

“Hierdie sluiting is die direkte gevolg van die regering se onvermoë om ʼn mededingende nywerheidsomgewing te skep en daadwerklike oplossings te vind en met dringendheid te implementeer waar daardie oplossings onder sy beheer val. Ons staalbedryf gaan vir jare reeds gebuk onder kragkrisisse, ʼn mislukte spoor- en hawenstelsel en ʼn regering wat eenvoudig nie die beleidsbesluite kan neem om ons nywerhede te beskerm nie. Nou is duisende mense se werk en inkomste op die spel,” sê Venter.

Hy waarsku dat die afleggings nie net die staalbedryf raak nie, maar dat alle aanduidings tans op ʼn afleggingsbloedbad dui wat verskeie nywerhede in Suid-Afrika kan tref. “As groot maatskappye soos Amsa nie meer kop bo water kan hou nie, moet die regering besef dat die land op die rand van ʼn industriële ramp staan,” voeg hy by. Die sluiting van Amsa se langstaalfabrieke gaan ʼn rimpeleffek op afstroomvervaardiging hê, en dit gaan ook verskeie ander bedrywe wat op Amsa se produkte steun, raak.

Solidariteit sal sy lede in die komende konsultasieproses by Amsa bystaan en sal alle regs- en arbeidsmiddele tot sy beskikking gebruik om sy lede se werk en belange te beskerm.

“Ons gaan nie staan en toekyk hoe duisende gesinne weens regeringsversuim van hul inkomste beroof word nie. Solidariteit gaan nie net hierdie afleggingsbloedbad namens sy lede by die betrokke werkgewers en die regering beveg nie, maar gaan ook sy lede wat geraak word met byvoorbeeld ander werkbeskermingsinisiatiewe bystaan om die impak van hierdie regeringsversuim te help temper, sê Venter.

Solidariteit waarsku dat die Amsa-aankondiging, soos dié van Ford verlede maand, net die begin is van groter werksverliese indien die regering nie nou dringend optree om die nywerheidsektor te beskerm en stabiliteit te herstel nie. GoodYear SA het reeds gesluit, chroomsmelters is ook onder geweldige druk en die druk op die mynbousektor is steeds aan die toeneem.

“Die tyd van beloftes en konferensies is verby. Ons dring aan op daadwerklike optrede deur die regering. Daarsonder wag nog baie sulke donker dae op Suid-Afrikaanse werkers,” sê Venter.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel