loading
Artikels
1 dag gelede
die-hoogtepunte-van-vanjaar-se-sos-kongres

Foto Krediet: OkayDeer

Die hoogtepunte van vanjaar se SOS-kongres

Deur Leré Nel

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het onlangs weer sy jaarlikse nasionale kongres vir skole en onderwysers aangebied. Solidariteit se Onderwysernetwerk het by Hugo Vermeulen, die Hoof van Opleiding by die SOS, gaan kers opsteek om uit te vind wat die hoogtepunte by vanjaar se kongres was, en waarom dit vir onderwysers ’n onmisbare ervaring was. Lees hier wat hy gesê het.

Wat het die program vanjaar alles behels?
Die SOS-kongres is ’n drie-dag kongres wat altyd in die laaste skoolweek van kwartaal 2 in Gauteng plaasvind. Dag 1 is ’n Leierskapskongres vir onderwysleiers, en dag 2 en 3 fokus op onderwysontwikkeling. Elke jaar bring ons onderwysers bymekaar om saam te leer, te netwerk en inspirasie te kry vir die tweede helfte van die jaar.

Ons het vanjaar 54 sprekers gehad – van motiveringsprekers en besigheidsleiers tot geestelike leiers en onderwysspesialiste. Die temas het gewissel van persoonlike groei en skoolleierskap tot vakspesifieke ontwikkeling en die toekoms van tegnologie in onderwys.

Wat is die doelwit van die kongres?
Ons wil Afrikaanse onderwysleiers en onderwysers blootstel aan wêreldgehalte sprekers en kundiges. Hulle kry insig in die nuutste onderwyspraktyke – van tegnologie en innovasie tot persoonlike ontwikkeling, Wiskunde, Tale, wetenskappe en selfs vroeë kinderontwikkeling. Die idee is dat onderwysers nuwe energie en praktiese idees terugvat na hul klasse en skole toe.

Hoeveel skole was betrokke, en watter streke is verteenwoordig?
Vanjaar het 91 skole deelgeneem, met personeel van al nege provinsies af. Die meeste skole wat die kongres bygewoon het, het uit Gauteng, die Wes-Kaap, Vrystaat en Noordwes gekom. Daar was egter ook baie onderwysers van al die ander provinsies ook gewees.

Hoekom is hierdie kongres so belangrik vir skole en onderwysers?

As jy ernstig is oor gehalte blootstelling aan die nuutste onderwystendense in Afrikaans, is dit die kongres om by te woon. Dis ’n plek waar jy inspirasie kry, kennis opdoen en met ander onderwysers netwerk wat dieselfde passie vir leer deel.

Wat lê voor?
Hierdie jaar se kongres was die dertiende SOS-kongres van sy soort, en ons gaan in 2026 nóg groter. Ons is reeds besig met die beplanning vir volgende jaar se kongres wat van 23 tot 25 Junie 2026 sal plaasvind. Ons het ʼn behoefte raakgesien daarvoor om ʼn aanlyn opsie aan te bied vir die hoofsessies – ons gaan dus volgende jaar se hoofsessies aanlyn uitsaai sodat selfs meer onderwysers regoor die land kan inskakel.

Wat is jou boodskap aan lede van die Solidariteit Onderwysernetwerk?
Onthou dat alle lede van die Solidariteit Onderwysernetwerk teen ons SOS-afslagtarief by die kongres kan aansluit. Ons hoop om volgende jaar selfs meer bekende gesigte daar te sien. Dis óns kongres, en dit is altyd lekker om die Solidariteit Onderwysernetwerk as ’n vennoot in Afrikaanse onderwys te hê.

Moenie 2026 se kongres misloop nie!
Bly ingeskakel by Solidariteit se Onderwysernetwerk en maak seker jy is daar vir ’n belewenis wat jou loopbaan en jou klaskamer kan verryk.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel