Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Jong onderwysers kry hupstoot by inspirerende netwerkgeleentheid
Leré Nel
Solidariteit Jongwerkende het onlangs, in samewerking met die Solidariteit Onderwysernetwerk, ’n spesiale netwerkgeleentheid vir assistentonderwysers aangebied – en dit was duidelik dat hierdie jong opvoeders nie net bederf is nie, maar ook met nuwe moed teruggekeer het skool toe.
Die dag het op ’n ligte en prettige noot afgeskop met ’n interaktiewe Kahoot-speletjie waar die jong onnies meer geleer het oor hul regte in die werkplek. Hierdie praktiese inslag het die toon aangegee vir ’n oggend vol waardevolle insigte en bruikbare hulpmiddels.
Volgens Michael Smith, koördineerder van Solidariteit Jongwerkende, was die doel van die geleentheid eenvoudig om die onderwysers te bederf, te bemagtig en te wys: hulle harde werk word raakgesien.
“Baie van hierdie assistentonderwysers is nuut in die beroep en werk baie hard. Ons wil doen wat ons kan om hulle te help om slimmer te werk – nie harder nie,” se Smith.

Die onderwysers is blootgestel aan hulpmiddels soos Wolkskool – ’n digitale platform met meer as 16 000 video’s, werkkaarte en toetse – wat hulle kan help om vinnig en effektief vir hul klasse voor te berei (selfs op daardie dae wanneer hulle in die knyp is en vakke moet aanbied wat nie noodwendig hul spesialiteit is nie). Onderwysers is ook vertel van nóg hulpbronne wat hulle in die klaskamer kan help, soos die nagenoeg 150 e-leerkursusse op Solidariteit-aanlyn.
Een van die persone wat die funksie bygewoon het, Marna Weilbach, ’n grondslagfase-assistentonderwyser, sê sy voel nou rustiger oor die werkplek omdat sy nou haar regte beter verstaan. “Dit was lekker om die ander onderwysers te ontmoet, en dit was cool om te hoor hoe hulpmiddels soos Wolkskool ons kan help om ons klasse nog beter te maak,” sê sy.

Nog ’n deelnemer, Krizel Langenhoven, het die waarde van die dag só opgesom:
“Vir jong werkendes is die werkplek nog ’n onsekere plek en daar is baie wat kan skeefloop. Dit was lekker om meer te leer oor al die hulpbronne wat tot jou beskikking is – veral wanneer jy vinnig ’n haas uit ʼn hoed moet ruk en ʼn lesplan moet uitdink!”
Solidariteit Jongwerkende is daarop toegespits om alle jong mense in die werkplek te ondersteun en gereed te kry vir ʼn suksesvolle loopbaan. Die Solidariteit Onderwysernetwerk is die waghond wat jou beskerm in jou beroep.
Met Solidariteit wat agter jou staan, kan jy met selfversekerdheid floreer in jou loopbaan as onderwyser.
Klik hier om ʼn Solidariteit Jongwerkende-lid te word, en word sommer nou ook deel van die Solidariteit Onderwysernetwerk!
Bly ingeskakel vir meer netwerkgeleenthede soos hierdie.