Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit se lang stryd teen Bela werp vrugte af
Deur Heléne Mocke
Die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) het vanuit die staanspoor kommer gewek oor die moontlike impak daarvan op taal-, kultuur-, en ouerregte. Solidariteit het oor dekades heen ʼn leidende rol gespeel in die opposisie teen hierdie wetgewing.
2017:
Solidariteit en ander instellings van die Solidariteit Beweging het hul eerste kommentaar teen die Bela-wysigingswetsontwerp ingedien.
Desember 2021:
ʼn Hersiene weergawe van die Wysigingswetsontwerp is gepubliseer en vir openbare kommentaar oopgestel, met ʼn sperdatum van Junie 2022.
Junie 2022:
Solidariteit het geskrewe kommentaar ingedien en openbare sittings bygewoon, waar hulle mondelingse insette gelewer en verdere kommentaar voorgelê het.
November 2022:
Mondelingse aanbiedings is deur Solidariteit aan die parlementêre portefeuljekomitee vir basiese onderwys gelewer.
2023:
Solidariteit het voortgegaan om by die Nasionale Raad van Provinsies kommentaar in te dien, aan openbare sittings deel te neem en mondelingse asook geskrewe insette te lewer.
Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Beweging het hul regspanne betrek en die regering gewaarsku dat litigasie ongetwyfeld sou volg indien die wetsontwerp in sy huidige formaat aanvaar word.
10 September 2024:
ʼn Brief lek uit dat die president die Wysigingswetsontwerp deur ondertekening gaan onderteken.
11 September 2024:
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, voer gesprekke met Helen Zille en Pieter Groenewald.
12 September 2024:
In ʼn deurbraak het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, direk met president Cyril Ramaphosa onderhandel. Artikels 4 en 5 van die wet, wat oor taal- en toelatingsbeleid handel, is toe voorlopig opgeskort. Daar is ooreengekom dat verdere onderhandelinge oor hierdie kwessies oor die volgende drie maande gevoer sou word.
10 Oktober 2024:
ʼn Bela-krisisberaad word gehou wat die minister van basiese onderwys bywoon.
15 Oktober 2024:
ʼn Eerste ontmoeting en gesprekke met die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) begin.
18 Oktober 2024:
Die eerste vergadering vind by Nedlac plaas.
5 November 2024:
Solidariteit het ʼn nasionale optog teen die gewraakte artikels 4 en 5 van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette gereël. Mense het in hul duisende hul steun betuig en teen die regering se voorstelle opgestaan.
13 November 2024
Die tweede Nedlac-gesprekke vind plaas. Hierdie vergadering, wat plaasgevind het nadat Solidariteit die nasionale optog gehou het, verskil drasties van die vorige vergadering.
25 November 2024:
Die minister van basiese onderwys teken die skikkingsooreenkoms met Solidariteit.
28 November 2024:
Solidariteit trek uiteindelik Bela se slagtande! In ʼn skikkingsooreenkoms wat by Nedlac met die regering bereik is, word verklaar dat artikels 4 en 5 van Bela nie geïmplementeer sal word nie. Klik hier om oor die skikkingsooreenkoms te lees.
Norme en regulasies moet eers ontwikkel word wat onder meer sal bepaal dat skole wat op
hul volle kapasiteit is nie instruksie mag ontvang om hul taal- en toelatingbeleid te verander
nie. Wat taal- en toelatingsbeleid betref, moet die onmiddellike omgewing van die skool en/of sy voedingsone, en nie net die groter onderwysdistrik nie, in ag geneem word.
Verdere ontwikkeling van norme en standaarde en moontlike wetswysigings moet eers
voltooi en oorweeg word voor die tersaaklike Bela-artikels geïmplementeer word.
Dit alles sal deel vorm van omvattende aanbevelings van die minister van basiese
onderwys, Siviwe Gwarube, aan pres. Ramaphosa.
Solidariteit se volgehoue en strategiese teenkanting teen Bela het vrugte afgewerp, en dit is ʼn bewys van die mag van volgehoue gemeenskapsbetrokkenheid en onderhandeling.