loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
solidariteit-het-n-groot-oorwinning-vir-geregtigheid-en-meriete-behaal

Foto Krediet: ChatGPT

Solidariteit gee die SAPD wéér ʼn rasbloedneus

Deur Robin-Lee Maré

Solidariteit het ʼn groot oorwinning vir geregtigheid en meriete behaal toe die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) onlangs gedwing is om ʼn bevel van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) te implementeer wat die terugwerkende bevordering van kolonel Lizette de Villiers, ʼn kliniese sielkundige, bevestig.

Die uitspraak volg nadat Solidariteit namens De Villiers opgetree het toe sy in 2022 onregverdig oor die hoof gesien is vir die pos van provinsiale bevelvoerder gemoeid met werknemergesondheid en -welstand (EHW) in die Vrystaat – ondanks die feit dat al die beoordelingspanele, insluitend die Provinsiale Modereringskomitee, asook die provinsiale kommissaris haar as die beste kandidaat aanbeveel het.

De Villiers het vir ʼn geruime tyd in die pos waargeneem, maar die SAPD het desondanks verkies om die tweede beste kandidaat in die pos aan te stel – dít op grond van die SAPD se regstellendeaksiebeleid.

Volgens Renate Pieterse, Solidariteit se netwerkkoördineerder van die openbare sektor, bewys hierdie oorwinning dat geregtigheid steeds kan seëvier. “Kol. De Villiers is ʼn lojale en uiters bekwame offisier wat op meriete alleen erkenning verdien het,” sê sy.

Kommissaris Marina Terblanche van die KVBA in Bloemfontein het beslis dat die SAPD onbillik teen De Villiers opgetree het en gelas dat sy terugwerkend vanaf 1 Oktober 2022 na die rang van kolonel bevorder word.

Pieterse sê Solidariteit is dankbaar vir die vertroue wat De Villiers in die organisasie gestel het en gee die eer aan God vir die wysheid en insig wat hierdie regverdige uitslag moontlik gemaak het. “Hierdie oorwinning is vir ons bevestiging dat meriete – nie ras of kwotas nie –moet tel,” sluit sy af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel