

Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Gautengse skole gewond na departement met poste en befondsing skok
’n Krisis dreig vir skole in Gauteng wie se begrotings en personeel meteens onder skoot is van die Gautengse Onderwysdepartement (GDO).
Dit volg nadat die departement die toedeling van onderwysposte en subsidies oornag uiters eensydig hersien het – ’n besluit wat skole en onderrig in Gauteng ernstige skade kan berokken.
Terwyl groter leerdergetalle en groter druk op infrastruktuur skole reeds onder druk plaas, het baie skole bevestig hulle gaan in 2026 minder poste én laer staatsubsidies ontvang. Hierdie nuwe toewysings tref beide Afrikaanse en Engelse kwintiel 5-skole en plaas ernstige druk op hul vermoë om gehalte-onderwys te lewer.
Volgens Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, sal die gevolge hiervan gedra word deur die skole wat reeds onder geldelike druk verkeer.
“Dit sal natuurlik ook uitkring na onderwysers wie se werksekerheid hierdeur bedreig word, en na ouers vir wie stygings in skoolfonds wag – en uiteindelik na leerders wie se onderrig belemmer word,” sê Botha.
Hy moedig onderwysers aan om deel te raak van die Onderwysernetwerk, en hy doen ook ʼn beroep op ouergemeenskappe om Solidariteit se drukveldtogte teen die besnoeiings te steun.
In ’n verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) waarin data van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) gebruik is, word die omvang van die probleem beklemtoon.
Die volledige verslag word binnekort bekend gemaak.
In talle gevalle verloor skole nou tot vyf onderwysposte, wat die onderwyser-leerder-verhouding by skole van 1:37 tot 1:41 laat verswak. Sommige groot skole met meer as 1 000 leerders het selfs tot agt departementele poste minder ontvang as waarvoor hulle volgens hul leerdergetalle kwalifiseer.
Intussen is kwintiel 5-skole se geldelike toewysings gemiddeld met 67% gesny, met die perleerder-toekenning wat van R900 tot net R315 per jaar gedaal het.
Johnell Prinsloo, onderwysnavorser van die SNI, sê nagenoeg 80% van skole het in ’n onlangse opname deur die SOS oor posvoorsiening en hulpbronverdeling aangedui dat hulle sukkel om basiese dienste te lewer en personeel te behou.
“Skole ervaar die veranderings as ’n groot bron van kommer. Hulle moet begrotings heroorweeg en skoolfondse verhoog, en verder moet hulle hul na fondsinsamelings wend.
“Lae vlakke van skoolfondsbetaling van tussen 40% en 60% vererger die probleem vir skole,” sê Prinsloo.
80% van skole het in die SOS-opname aangedui dat hulle poste verloor. 90% sê daar was geen voorafkonsultasie deur die provinsiale onderwysdepartement (GDO) nie, en hulle het ook geen waarskuwing hieroor van die GDO ontvang nie.
Verskeie skole waarsku dat hulle in 2026 noodgedwonge handboeke, drukwerk en eksamenmateriaal sal moet beperk om salarisse te kan betaal. Sommige gaan remediërende programme en ekstra klasse uitfaseer, terwyl ander onderhoud en sekuriteit moet kanselleer of verklein.
Sport- en kultuurprogramme word ook geraak, en in ander gevalle word deeltydse poste vir biblioteek-, administrasie- en skoonmaakpersoneel heroorweeg om onderwysersalarisse te probeer behou.
“Wanneer skole gedwing word om handboeke, instandhouding en sport te sny om salarisse te betaal, wys dit dat iets fundamenteels verkeerd is in die stelsel,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS.
“Die staat sentraliseer beheer, maar trek terselfdertyd finansiële steun terug. Skole wat verantwoordelik en doeltreffend bestuur word, word ironies genoeg gestraf vir hul sukses.”
Die SOS het intussen ’n dringende beroep op die Departement van Basiese Onderwys gedoen om:
- 1. onmiddellik met skole en beheerliggame te konsulteer oor die 2026-toewysings;
- 2. ’n realistiese, volhoubare befondsingsmodel te ontwikkel wat skooloutonomie en onderwyskwaliteit beskerm; en
- 3. die verlaging van subsidies aan kwintiel 5-skole te hersien en ’n billiker formule vir alle skole te implementeer.
Woordvoerders: