
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
ʼn Helpende Hand vir skole en kinders
Deur Nico Strydom
Opvoeding en geleenthede gaan hand aan hand en daarom is dit van kardinale belang om jong leerders toe te rus met die nodige gereedskap vir hul akademiese reis.
Solidariteit Helpende Hand fokus op die groei en ontwikkeling van elke kind om sy of haar maksimum potensiaal te bereik.
Kinders is ʼn kwesbare deel van die samelewing – hulle kies nie in watter huis of in watter omstandighede hulle grootword nie. Soms verg dit net ʼn klein bydrae tot kinders se lewe om vir hulle ʼn brug te bou na beter omstandighede.
Daar is verskeie projekte wat Solidariteit Helpende Hand in skole geïmplementeer het.
Bemagtig ʼn kind
Die doel van die Bemagtig-’n-kind-projek is om geleenthede vir behoeftige kinders moontlik te maak; om kinders uit armoede en swak maatskaplike omstandighede op te hef, sodat hulle hul volle vermoë ten spyte van hul omstandighede kan verwesenlik. Hierdie fonds voorsien in ’n wye spektrum van behoeftes soos bv. koshuisgelde, vervoer na skool, remediërende onderrig, terapie ens.
Skooltassie-projek
Helpende Hand se Skooltassie-projek sit sedert 2007 skooltassies in behoeftige graadeenleerders se hande om hulle in staat te stel om hul akademiese reis op gelyke voet met hulle skoolmaats te begin. Die Skooltassie-projek se impak strek verder as die verskaffing van ʼn fisiese tassie met skryfbehoeftes en het ten doel om jong leerders van kleins af te bemagtig en op koers te sit vir ʼn pad na sukses.
#Kosblikkie-projek
Die #Kosblikkie-projek help om daagliks derduisende kleuters te voed sodat hulle kan speel, leer en ontwikkel. Daar is elke aand kinders wat honger gaan slaap aangesien hulle ouers net eenvoudig nie kan bekostig om vir hulle kos te voorsien nie. Helpende Hand ontvang ook versoeke om kinderhuise, ouetehuise en behoeftige gesinne te help en daarom is bykomende veldtogte soos #StopHonger en #HelpJag begin om die Kosblikkie-projek aan te vul. Die PlantSelf-projek wil gemeenskappe aktiveer om selfonderhoudend te wees en deur ʼn plantkoepel by ʼn Kosblikkie-skool te plaas word skole bemagtig om ʼn stap in dié rigting te neem.
Tekkies & Toks
Solidariteit Helpende Hand besef ook die belangrikheid van sport vir kinders se ontwikkeling op soveel vlakke. Die Tekkies & Toks-inisiatief het ten doel om tekkies en/of toks aan hoërskoolleerders te skenk wie se ouers dit nie finansieel kan bekostig nie. Finansies moet nooit die rede wees dat kinders nie aan sport deelneem nie.
#HelpHetta
Duisende skoolgaande meisies se lewens kom elke maand vir vyf dae tot stilstand, omdat hul huishoudings nie sanitêre ware kan bekostig nie. Die #HelpHetta-projek versprei sanitêre ware en ander noodsaaklike higiëniese produkte aan hierdie meisies op ’n kwartaallikse basis.
Solidariteit Helpende Hand wil behoeftige Afrikaanse leerders ook ná skool verder bemagtig en die Helpende Hand Studietrust gee vir hulle die geleentheid om rentevrye studielenings te bekom sodat elkeen wat wil studeer dit moet kan doen.
Vir onderwysers in skole is dit nodig om bewus te wees van hierdie projekte. Só kan jy die kinders in jou klaskamer bemagtig en ondersteun om te sorg dat hulle akademiese reis nie vertraag word deur elemente wat nie binne die kind se beheer is nie. Skep jou gratis profiel op Solidariteit en bly op hoogte van die jongste nuus by Solidariteit se onderwysernetwerk!