loading
Artikels
19 uur gelede
n-it-praktisyn-se-perfekte-linkedin-profiel

Foto Krediet: OkayDeer

ʼn IT-praktisyn se perfekte LinkedIn-profiel

Deur Kyla-Ann du Toit

LinkedIn is lankal nie meer net ʼn aanlyn CV nie. Dit is ʼn bemarkingshulpmiddel en ʼn loopbaanversneller – veral vir IT-praktisyns wat in hul loopbaan wil groei en nuwe geleenthede soek.

ʼn Swak profiel kan egter tot verlore geleenthede lei. Hier is hoe jy jou LinkedIn-profiel professioneel en strategies kan opstel om jou waarde as werknemer akkuraat te weerspieël:

1. Begin by jou profiel- en agtergrondfoto

Jou foto is jou eerste indruk. Maak seker dit is:

  • • professioneel en vriendelik (selfs al dra jy nie ʼn snyerspak nie);
  • • goed belig, met ʼn eenvoudige agtergrond; en
  • • van hoë gehalte.

Wenk: Gebruik ʼn agtergrondfoto wat jou belangstellings of veld verteenwoordig – byvoorbeeld ʼn skerm met kode, jou besigheidskaartjie of selfs jou werkstasie.

2. Skep ʼn opskrif (“Headline”) wat jou waarde vasvang

Vermy generiese postitels soos IT-tegnikus (“IT technician”) of ondersteuningsontleder (“support analyst”). Beklemtoon eerder jou spesialisasie en brei uit oor die unieke waarde wat jy tot ʼn werkplek toevoeg.

Hier is ʼn voorbeeld:

IT-praktisyn | Kundig in eindgebruikerondersteuning en netwerkbestuur | ʼn Passie vir oplossings

3. Jou opsomming (“About”): Kort, kragtig en kundig

Gebruik hierdie spasie om kortliks te verduidelik:

  • • wat jy doen en wat jy goed kan doen;
  • • wat jou sterkpunte in IT is; en
  • • wat jou dryf en/of waaroor jy passievol is.

Hier is ʼn voorbeeld:

Ek is ʼn tegnies ingestelde IT-praktisyn met vyf jaar ervaring in netwerkondersteuning, eindgebruikerondersteuning en probleemoplossing. Ek werk goed onder druk en geniet dit om komplekse tegniese uitdagings maklik en verstaanbaar vir gebruikers op te los.

4. Ervaring en prestasies: Wees spesifiek

Jou werkgeskiedenis gaan oor meer as net wat jy al gedoen het, dit wys ook hoe goed jy dit gedoen het. Moenie net jou verantwoordelikhede lys nie, maar beklemtoon jou prestasies en die impak wat jy gemaak het. Werkgewers soek mense wat waarde tot ʼn span toevoeg – nie net take afhandel nie.

Wenk: Gebruik kolpunte, wees duidelik en gebruik aksiewoorde soos “ontwikkel”, “geoptimaliseer”, “geloods”, “bestuur” of “gelei”. As jy resultate kan meet (met persentasies, tydbesparing, kostebesparing, ensovoorts), sluit dit in – dit verseker geloofwaardigheid.

Hier is ʼn voorbeeld:

IT-tegnikus – Naam van maatskappy (2021 – hede)

  • Moniteer en bestuur ʼn 120-eenheid-netwerkomgewing vir ʼn multinasionale kliënt
  • Ontwikkel ʼn selfhelpstelsel wat IT-navrae binne ses maande met 35% verminder het
  • Opleiding van nuwe personeel rakende kuberveiligheidsprotokolle, wat tot ʼn 70%-afname in interne sekuriteitsvoorvalle gelei het
  • ʼn Inisiatief gelei om sagteware-opdaterings te outomatiseer, wat stelselonderbreking (“system downtime”) met 40% verminder het

5. Vaardighede, sertifikate en aanbevelings

  • • Voeg sleutelvaardighede by (byvoorbeeld Windows Server, Active Directory, ITIL, Azure, PowerShell)
  • • Wys jou sertifikate (byvoorbeeld CompTIA A+, Microsoft Fundamentals, Cisco CCNA)
  • • Vra vir aanbevelings van voormalige kollegas of bestuurders

6. Wees aktief en sigbaar

  • • Deel interessante artikels oor die IT-wêreld
  • • Deel jou eie insigte of wenke
  • • Volg maatskappye en groepe in jou beroepsveld
  • • Bou jou netwerk stadig maar strategies op – begin by voormalige kollegas, dosente en nuwe kontakte

7. Dink soos ʼn werwer

IT-werwers let gewoonlik op sleutelwoorde. Maak dus seker jy gebruik die regte woorde in jou profiel. Verwys na spesifieke stelsels en tegnologieë waarmee jy vertroud is.

Dit is nie net ʼn profiel nie – dit is ʼn deur na geleenthede

LinkedIn gee IT-praktisyns ʼn stem én ʼn platform – gebruik dit om jouself professioneel te posisioneer, nuwe kennis op te doen en aktief geleenthede te soek. ʼn Goeie profiel is aktief, eerlik en doelgerig.

Die Solidariteit IT-netwerk wil jou graag help om jou volle loopbaanpotensiaal te bereik. Hierdie beroepsnetwerk is jou loopbaanvennoot wat netwerkgeleenthede bied wat jou kan bemagtig en waar jy jou professionele netwerke kan uitbrei.

Word vandag deel van Solidariteit se IT-netwerkgroep – nie net om te leer nie, maar ook om ander in hul loopbaan te help groei. Deel jou insigte en advies, bou aan jou loopbaan en wees deel van ʼn gemeenskap wat saam die toekoms van IT vorm.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel