Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
NGV-kompromie is beter maar nie goed genoeg nie – Solidariteit
Die kwansuise bereidwilligheid van die ANC om gesprekke met die DA oor die NGV te voer, is ‘n stap in die regte rigting. Solidariteit dink egter dat sy Wetsontwerp op die Hervorming van Gesondheidsbefondsing ‘n daadwerklike, volhoubare oplossing is tot gesondheidsorg vir almal. Lees Solidariteit se standpunt oor die voorgestelde NGV-kompromie hieronder.
Solidariteit beskou die bereidwilligheid van die ANC om gesprekke met die DA oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te voer, as ʼn stap in die regte rigting, maar dit is nie goed genoeg nie. Dié kwansuise toegewing spreek nie die onderliggende kernprobleme van die NGV aan nie.
Die onlangse kompromie tussen die ANC en die DA oor ‘n voorstel om mediese fondse te behou dui op ‘n mate van vordering. Dit bly egter onvoldoende om ‘n werklike verskil aan die NGV-probleem te maak. Alhoewel hierdie voorstel voorsiening maak vir die voortbestaan van private mediese fondse, beteken dit steeds nie dat lede van mediese fondse van die verpligte finansiële bydrae tot die NGV kan ontsnap nie.
Die gesprek tussen die ANC en die DA kan as ‘n positiewe teken beskou word. Tog is dit duidelik dat die voorgestelde veranderinge en die kompromie waartoe die twee partye wil kom, nie die kernprobleme van die NGV oplos nie. Lede van mediese fondse sal steeds ‘n verpligte bydrae tot die NGV moet maak, ongeag of hulle reeds vir ʼn private mediese fonds betaal.
Solidariteit moedig politieke partye aan om eerder daadwerklike, volhoubare oplossings soos Solidariteit se Wetsontwerp op die Hervorming van Gesondheidsbefondsing te ondersteun.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, bied die ANC/DA-kompromie geen verligting vir die dubbele finansiële las wat op lede van mediese fondse geplaas sal word nie.
“Terwyl ‘n beperkte belastingkrediet in die kompromie-voorstel vir private mediese fondse van toepassing is, sal mediesefondslede steeds verplig word om vir die NGV te betaal,” sê Du Buisson.
“Dit plaas verdere druk op ‘n bevolking wat reeds onder toenemende lewenskoste en ekonomiese uitdagings gebuk gaan. Die NGV se finansiële implikasies bly selfs met die kompromie tussen die ANC en die DA onvolhoubaar, en die land verkeer steeds in ‘n posisie waar dit nie die enorme koste daarvan kan dra nie,” sê hy.
Die mededinging tussen ‘n massiewe staatsfonds en private mediese fondse skep ook ‘n oneweredige speelveld, wat uiteindelik tot die ineenstorting van private mediese fondse kan lei.
Al is die kompromie ten opsigte van mediese fondse bereik, verplig die NGV steeds dokters om pasiënte volgens die NGV se vasgestelde kostestrukture te behandel.
Solidariteit se Wetsontwerp op die Hervorming van Gesondheidsbefondsing is ‘n volhoubare en realistiese benadering tot gesondheidsorg. Dié wetsontwerp wat reeds deur die DA en die Vryheidsfront Plus ondersteun word, bied ‘n werkbare alternatief vir die NGV. Hierdie wetsontwerp, wat in die parlement bespreek sal word, bied ‘n finansieel haalbare oplossing wat gesondheidsorgtoegang verbeter sonder om die ekonomiese stabiliteit van die land te ondermyn.