loading
Artikels
5 uur gelede
10-klein-dinge-wat-jou-werkdag-beter-kan-maak

Foto Krediet: OkayDeer

10 klein dinge wat jou werkdag beter kan maak

Dit voel soms of jou werk nooit ophou nie. Daar is egter klein dinge wat jy kan doen wat jou dag net opkikker en nie net jou lewe nie, maar dié van jou kollegas ook meer betekenisvol maak. Lees hierdie artikel en verryk jou én jou naastes se lewens


Deur Karen Waldeck

Jy spandeer die grootste deel van jou lewe by die werk. Hoekom dan nie moeite doen om jou werksdag ‘n bietjie meer aangenaam te maak nie? Hier is tien klein dinge wat jou werkdag beter, en dalk selfs lekkerder, kan maak.

1. Begin jou dag met iets positiefs

Hoe jy jou dag begin, skep die toon vir die res van jou dag. Drink ‘n lekker koppie koffie of tee, luister na jou gunstelingmusiek, of doen Bybelstudie. Hierdie klein gewoonte kan jou help om meer gefokus en energiek te wees.

2. Maak jou werkruimte jou eie

’n Omgewing wat jou persoonlikheid weerspieël, kan wondere doen vir jou gemoed. Plaas ‘n paar familiefoto’s, ‘n klein plantjie of jou kleurvolste en gunstelingskryfbehoeftes op jou lessenaar. ’n Ligte, positiewe omgewing maak dit soveel lekkerder om jou werk te doen.

3. Breek jou dag op in kleiner blokke

Lang ure van werk kan oorweldigend wees. Stel kort, haalbare doelwitte en neem gereelde verposings. Gebruik die Pomodoro-tegniek waar jy 25 minute intens werk en dan 5 minute rus. Dit help om jou fokus en produktiwiteit te verbeter.

4. Beweeg rond

Jy hoef nie ure lank aan jou stoel vasgeplak te wees nie. Staan op, strek jou bene of loop vinnig om die kantoorblok. Fisieke beweging verhoog bloedsirkulasie en verfris jou gedagtes.

5. Ruim tyd in om jou kollegas beter te leer ken

’n Geselsie met ‘n kollega oor nie-werkverwante onderwerpe kan jou dag ophelder. Skep verhoudings wat verder strek as net werk – dit bou vertroue en verbeter die algehele werkatmosfeer.

6. Leer om ‘nee’ te sê

Jy hoef nie altyd elke versoek te aanvaar nie. Prioritiseer jou take en leer om beleefd “nee” te sê wanneer jy te veel hooi op jou vurk het, of dan oor sperdatums te onderhandel. Dit gee jou meer beheer oor jou dag en verminder stres.

7. Luister na musiek of ‘n podsending

Musiek of jou gunstelingpodsending kan ‘n groot verskil maak, veral as jy ‘n vervelige of eentonige taak het. Kies iets wat jou motiveer of jou kreatiwiteit aanwakker – net niks wat jou aandag te veel aftrek nie. Dit is die perfekte geleentheid om na ʼn oudioboek te luister.

8. Vier klein suksesse

Dit maak nie saak hoe groot of klein jou prestasie is nie – vier dit! Het jy daardie moeilike e-pos gestuur of ‘n uitdagende taak afgehandel? Beloon jouself met ‘n lekkerny of gee jouself ‘n klop op die skouer. Jy verdien dit!

9. Organiseer jou dag

Begin jou dag deur ‘n vinnige lysie te maak van wat jy wil doen. Deur jou take in volgorde van belangrikheid te prioritiseer, voel jy meer in beheer en minder oorweldig. Met soveel aanlyn hulpmiddels kan jy kreatief raak en vir jouself die lewe makliker maak.

10. Wees dankbaar

Aan die einde van jou dag, dink aan een of twee dinge waaroor jy dankbaar is. Dit kan iets so eenvoudig wees soos ’n kollega wat jou gehelp het of ’n taak wat jy voltooi het. Dankbaarheid bevorder positiewe denke en motiveer jou vir die volgende dag.

Werk is wat ons doen – en ons spandeer soveel tyd daaraan dat dit sin maak om die beste daarvan te maak. Hierdie tien wenke is klein aanpassings wat jy daagliks kan implementeer om jou werkplek en werkdag meer positief te maak. Watter klein dinge maak jou dag beter? Deel dit gerus met jou kollegas en moedig hulle aan om ook ‘n positiewe draai aan hul dag te gee.

ʼn Pasella elfde wenk om jou dag beter te maak: Bly ingeskakel op Solidariteit. As jou eenstop-beroepstuiste kan jy op hoogte bly van nuwe werkverwante nuus, kan jy insiggewende werkplek-artikels lees en inskakel by ʼn netwerk van kundiges in jou beroepsveld. Met hierdie gratis platform kan jy nuwe werksgeleenthede ontdek en jou werkplekvaardighede opskerp.

Skep jou gratis profiel op Solidariteit vandag en sluit aan by jou grootste Afrikaanse netwerk van werk.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel