Fotokrediet: OkayDeer
Gekopieër
Nuwe Bela-regulasies bedreig skole se selfstandigheid
Drie nuwe konsepregulasies ingevolge die Bela-wet dui op ʼn kommerwekkende verskuiwing na groter staatsbeheer oor openbare skole en kan beheerliggame en skoolgemeenskappe se praktiese gesag verder beperk.
Volgens Johnell Prinsloo, onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), skep die regulasies ʼn toenemend gesentraliseerde en voorskriftelike stelsel.
“Behoorlike regulering is nodig, maar skole kan nie bloot administratiewe verlengstukke van provinsiale onderwysdepartemente word nie. Skoolbeheer moet hoofsaaklik by ouers en skoolgemeenskappe berus,” sê Prinsloo.
Die eerste stel konsepregulasies handel oor beheerliggaamverkiesings en maak onder meer voorsiening vir elektroniese nominasies en e-stemming, strenger verifikasieprosesse, uitgebreide rekordhouding en ʼn groter rol vir distriks- en provinsiale amptenare.
Die tweede stel fokus op onderwyserontwikkeling deur provinsiale institute en distriksentrums. Hoewel Solidariteit beter ondersteuning vir onderwysers verwelkom, bestaan kommer oor ʼn eenvormige staatsmodel wat nie die beduidende verskille tussen provinsies, stedelike gebiede en landelike gemeenskappe verreken nie.
“Onderwysers het praktiese ondersteuning nodig, nie nóg administratiewe strukture wat min verskil in die klaskamer maak nie. Daar moet veral meer duidelikheid oor befondsing, toeganklikheid en digitale alternatiewe wees,” sê Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk.
Die derde stel regulasies stel strenger vereistes vir bykomende vergoeding aan staatsaangestelde personeel. Dit kan skole se vermoë beperk om personeel vinnig en verantwoordelik te vergoed vir ekstra werk soos sport, kultuur, ekstra klasse, uitstappies en kampe.
“Misbruik moet voorkom word, maar die oplossing kan nie wees om funksionele skole se hande vas te bind nie. Beheerliggame moet steeds die ruimte hê om verantwoordelike besluite volgens hul skole se behoeftes te neem,” sê Botha.
Solidariteit sal die drie stelle konsepregulasies volledig ontleed en formele kommentaar indien. Die organisasie sal ook riglyne aan skole beskikbaar stel om hulle met hul eie deelname aan die openbare kommentaarproses by te staan.
“Hierdie regulasies raak elke openbare skool. Ouers, beheerliggame en skoolgemeenskappe moet daarom nou hul stem laat hoor om skoolselfstandigheid te beskerm,” sluit Prinsloo af.