Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Solidariteit sê FPWC moet eerlik wees oor die sluiting van die Tulbagh-fabriek
Die eerste konsultasie oor die moontlike sluiting van Premier Fruit Products Western Cape (FPWC) se Tulbagh-inmaakfabriek, wat deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gefasiliteer is, het op 6 Augustus plaasgevind.
Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het die vakbonde, insluitend Solidariteit, die eerste konsultasie met meer vrae as antwoorde verlaat.
“Die partye het ooreengekom dat die vakbonde al hul vrae binne ʼn week skriftelik aan die werkgewer sal voorlê, waarna die werkgewer skriftelik daarop sal reageer.”
Du Plessis meen dit is kommerwekkend dat, hoewel die konsultasieproses ingevolge die arbeidswetgewing oor ʼn minimum tydperk van 60 dae moet strek, daar reeds verskeie aanduidings is dat die proses bloot ʼn formaliteit is om aan die wetlike vereistes te voldoen.
“Vrugteprodusente is reeds in kennis gestel dat geen verdere vrugte aangekoop sal word nie, terwyl gesprekke met kontrakteurs oor die beëindiging van kommersiële ooreenkomste blykbaar reeds plaasgevind het.”
Hoewel die volgende fase uit ʼn skriftelike vraag-en-antwoordsessie sal bestaan en na verwagting groter duidelikheid aan vakbonde, werknemers en vrugteprodusente sal bied, doen Du Plessis ʼn beroep op die werkgewer om in sy terugvoer eerlik en deursigtig te wees.
“Indien daar reeds ʼn finale besluit geneem is om die fabriek te sluit, behoort dit openlik erken te word eerder as om onsekerheid te laat voortduur deur ʼn konsultasieproses wat geen werklike ruimte vir oorleg of alternatiewe bied nie.”
Volgens Du Plessis sal die moontlike sluiting van die fabriek verwoestende gevolge vir Tulbagh en die omliggende gemeenskappe inhou.
“Benewens die honderde permanente werknemers en duisende seisoenale werkers wat geraak sal word, sal boere, plaaswerkers en talle afstroomondernemings ook die gevolge dra.
“Solidariteit bly ten volle daartoe verbind om saam met alle rolspelers na ʼn volhoubare oplossing te soek wat die werkgewer, werknemers en die landbougemeenskap ʼn toekoms kan bied.”
Die tweede konsultasieronde vind op 26 Augustus 2026 plaas.