Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
3 uur gelede
solidariteit-maan-departement-oor-nywerheidsplan-moenie-die-foute-herhaal

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit maan departement oor nywerheidsplan: Moenie dié foute herhaal 

Solidariteit het ekonomiese groei as die mees kritieke vereiste gestel vir nywerheidsontwikkeling, werkbeskerming en werkskepping tydens ʼn voorlegging aan die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging se portefeuljekomitee. 

Die portefeuljekomitee het vandeesweek ʼn driedag-werkwinkel aangebied om die regering se 2026 Nywerheidsontwikkelingsplan te bespreek.

Volgens Marius Croucamp, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris vir strategie, moet daar gewaak word teen regeringsbeleide wat werksgeleenthede en beleggings kortwiek. 

“Die mynbedryf het duisende werksgeleenthede verloor en beleggings in die industrie het tot stilstand gekom as gevolg van die uitvoering van beleide wat investering ontmoedig en werksgeleenthede vernietig. 

“Daar moet gewaak word om dié foute nie weer te herhaal nie,” sê Croucamp.

In die voorlegging is daar uitgewys hoe die oorgang na ʼn groen ekonomie ʼn risiko inhou vir werkers wat tans in kwesbare sektore soos steenkool werk. Hierdie sektor gee werk aan duisende mense. 

Solidariteit het benadruk dat die huidige ekonomie en werksgeleenthede beskerm moet word om ʼn regverdige oorgang na ʼn groen ekonomie te verseker. 

Die staalbedryf is uitgewys as ʼn kritiese sektor in Solidariteit se voorlegging, wat beter bestuur en uitvoering van die staal meesterplan vereis.
 
Kommer is uitgespreek oor die nywerheidsontwikkelingsplan se fokus op aanmekaarsitstelle (CKD kits) vir die motorbedryf waar motors gedeeltelik of volledig as onderdele ingevoer gaan word en slegs in Suid-Afrika aanmekaar gesit gaan word. 

Solidariteit is van mening dat dit werklike vervaardiging ondermyn omdat daar nie van Suid-Afrikaanse grondstowwe of onderdeelvervaardigers gebruik gemaak sal word nie. Dit sal daartoe lei dat werkgeleenthede in dié sektore nie behou of geskep sal word nie.

Eskom se duur kragtariewe wat vervaardiging inperk asook die komende gaskrisis waar gasbronne uit Mosambiek reeds aan die opdroog is, is ook op die tafel geplaas.
 
Solidariteit het gevra dat daar dringend na die koste van elektrisiteit gekyk word en dat daar ʼn dringende alternatief vir gasverskaffing verkry word.  

Ondersteuning vir die omkeer van Transnet en Denel is in Solidariteit se voorlegging verwelkom.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel