Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Lys van Media24-werknemers wat werk kan verloor groei
Die lys van poste wat deur Media24 se jongste herstruktureringsproses geraak word, word al langer met nóg 19 poste van die sakenuusredaksie wat nou ook onder skoot kom.
Grootskaalse afleggings by dié mediamaatskappy dreig om redaksies en ander personeel van onder meer Netwerk24, News24, Sarie, Huisgenoot en die Weg-tydskrif tot op die been te sny in die soveelste afleggingsproses die afgelope paar jaar by Media24.
Media24 se oorspronklike afleggingskennisgewings het melding gemaak van 25 sportredaksieposte en 101 leefstylredaksieposte, maar die getalle van die sakenuusredaksie het in hierdie oorspronklike kennisgewings aan personeel ontbreek.
Volgens Johan Roos, arbeidsverhoudinge-spesialis by Solidariteit, laat die toevoeging van hierdie bykomende 19 poste in die sakenuusredaksie die vraag ontstaan watter ander getalle ook nie volledig geopenbaar word nie.
“Gemeet aan die terugvoer wat ons van lede én nie-lede by Media24 kry, het ons begin besef dat veel meer personeel deur hierdie beoogde afleggings geraak word as wat daar oorspronklik meegedeel is.
“Hierdie gebrek aan deursigtigheid wek kommer en skep die indruk dat die werkgewer steeds nie oop kaarte met vakbonde, die publiek en sy eie werknemers speel nie,” sê Roos.
Solidariteit het intussen in ʼn skrywe aan Media24 juis ʼn beroep op groter deursigtigheid gedoen en die maatskappy ook in kennis gestel van sy versoek om toegang tot strategiese en finansiële beplanning, asook die vergoedingspakkette van senior personeel en redakteurs, te verkry.
Dit het ten doel om vas te stel of ander oplossings, eerder as nóg ʼn ronde van afleggings, wel deeglik oorweeg is.
Daar bestaan ʼn sterk vermoede by Solidariteit dat swak bestuursbesluite eerder aan die kaak gestel moet word omrede dit waarskynlik die vernaamste rede is waarom Media24 toenemend sukkel om kop bo water te hou.