
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Nuwe Johannesburgse Hospitaal skep hoop
Deur Maryna Eksteen
In ʼn land waar alles deur politiek oorheers word en waar die staat sentralisme op sy burgers wil afdwing, wil dit dikwels lyk of daar geen hoop is nie. Nasionale Gesondheidsversekering gaan alles verander en dokters stroom landuit. Waar laat dit ons en die medici in ons land?
Terwyl Suid-Afrika besig is om ʼn uitvoerder van mediese kundigheid te word, het ʼn groep van 36 spesialiste besluit om net hier te bly! Die uitdagings van die NGV het beslis nie in die pad van dié groep dokters se drome gestaan nie en hulle het ʼn nuwe privaat en ultramoderne chirurgiese hospitaal in Johannesburg gebou.
Te midde van groot onsekerheid wat oor nasionale gesondheid heers, het die dinamiese groep spesialiste R700 miljoen van hul eie geld en met die hulp van Investec-lenings in die projek belê en so het die Johannesburg Surgical Hospital (JSH) tot stand gekom.
Die droom van so ʼn hoogs gespesialiseerde chirurgiese hospitaal het by dr. Jaco Strobos ontstaan en ná baie jare se beplanning en harde werk het dié ortopediese chirurg ʼn lisensie vir die nuwe hospitaal in 2019 bekom. Die bal was aan die rol en spesialiste wat sy droom gedeel het, het vinnig ook by die projek betrokke geraak.
“Die hospitaal is ʼn baken van hoop en vertroue. Die personeel is ingestel op mense en diens en is opgewonde om pasiënte met ope arms te ontvang. Tydens ʼn besoek van Solidariteit se mediese beroepsnetwerke (die Doktersnetwerk, die Verpleegnetwerk en die Aptekersnetwerk) aan die JSH was personeel besig met besig om opleiding te ondergaan om vertroud te raak met die stelsels en die nuutste tegnologie wat daar ingespan word.” – Peirru Marx, sektorkoördineerder: Mediese Sektor
Die hospitaal wil vir elke pasiënt net die beste uitkoms verseker deur die tegnologie en pasiëntesorg van wêreldklas wat daar gebied word. Die hospitaal staan aan die voorpunt van tegnologie en spog met 13 moderne teaters wat daarop fokus om minimaal indringende, beeldgeleide, robotondersteunde chirurgie en telechirurgiese prosedures te behartig. Die spesialiste wat by die hospitaal gaan werk, sluit in ortopediese chirurge, neurochirurge, kardiotorakale chirurge, vaskulêre chirurge, algemene chirurge, plastiese chirurge, radioloë, kardioloë, uroloë, ʼn neuroloog en ʼn rumatoloog, sowel as interniste.
Volgens die hospitaalbestuurder, Alex Daneel, wil die hospitaal ʼn veilige vesting skep vir pasiënte waar hulle kan tuisvoel tydens hul herstel op pad na die beste uitkoms. Daneel is verder van mening dat die gees van die personeel, die dokters se entoesiasme en die gevorderde tegnologie die hospitaal enig in sy soort maak.
“Hierdie 36 spesialiste stuur ʼn baie duidelike boodskap aan Suid-Afrika en dit is dat hulle nie landuit gaan nie en net hier gaan bly. Maar hulle gaan nie net hier bly nie, hulle bou. En hulle bou nie net nie, hulle bou iets wat van wêreldklas is. Ten spyte van wat in die land aan die gang is en mense wat oor so baie dinge bekommerd is, kom die groep dokters en sê eenvoudig: Ons bou ʼn toekoms hier. Dit is baie inspirerend om deur die hospitaal te loop en te sien wat hulle alles doen.” – dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Hierdie groep spesialiste het na vore gekom en gesê #OnsSalSelf want daar lê krag in gemeenskap en in samewerking.
Indien jy meer wil lees oor die NGV, klik hier of raak vandag nog betrokke by Solidariteit om die NGV saam met ons stop te sit. Solidariteit skep ʼn tuiste waar dokters, verpleegkundiges en aptekers veilig en gewaardeerd kan voel. Lees meer hier.