loading
Artikels
1 dag gelede
onderwyser-van-die-jaar-2025-ontmoet-jou-laerskole-se-top-10-onderwysers

Foto Krediet: Solidariteit

Onderwyser van die jaar 2025: Ontmoet jou laerskole se top-10-onderwysers

ʼn Laerskoolonderwyser is werklik ʼn onbesonge held. Van ʼn nat-agter-die-ore haasbek graad 1-leerder tot ʼn nukkerige graad-sewe wat dink hulle is te groot vir die laerskool – hierdie onderwysers het altyd hulle hande vol. Daarom sien Solidariteit se Onderwysernetwerk uit om binnekort die wenner van die laerskool-kategorie met hulle toekenning te beloon.

Hier is vanjaar se toptienkandidate in geen spesifieke volgorde nie:

Bella (Bernadette) Groenewald, Audeamus Private School

Vir Bella is onderwys nie bloot ’n beroep nie – dit is haar roeping. Sy het eers later in haar lewe besluit om onderwys te studeer en het haar graad binne die gegewe vier jaar voltooi, ondanks die uitdagings om voltyds te werk en ’n gesin te hê.

Haar hart lê veral by leerders met leerhindernisse. Sy leef die woorde van George Evans: “Elke kind kán leer, net nie op dieselfde manier nie.”  Hierdie oortuiging vorm die kern van haar onderrigbenadering. Met God as haar fondasie berei sy elke les met sorg voor sodat elke leerder die geleentheid kry om sy of haar volle potensiaal te bereik.

Bella glo dat skool pret behoort te wees. Daarom is haar missie om elke dag vir kinders onvergeetlike, prettige maniere te skep om te leer en die wêreld te verken. Vir haar is dit ’n besondere voorreg om genomineer te wees – ’n erkenning wat sy as ’n huldeblyk aan haar mentor se vertroue en ondersteuning beskou.

Celeste Wentzel, Laerskool Rapportryer

Met twee honneursgrade in Inklusiewe Onderwys, ’n BA-graad in Sielkunde en ’n Meestersgraad in ICT, leef Celeste Wentzel haar droom om die beste van twee wêrelde te hê. Bedags is sy ’n graad 1-onderwyseres en graadhoof by Laerskool Rapportryer, en saans werk sy as assistent-lektor by die Universiteit van Johannesburg. Haar passie vir tegnologie en onderwys is in 2024 bekroon toe sy eerste plek in Gauteng-Wes behaal het vir Tegnologie in die Klaskamer en Innovasie, en haar klas dien as voorbeeld van hoe tegnologie leer kan verryk.

Reeds vir 21 jaar speel sy ’n sleutelrol by Laerskool Rapportryer, waar sy die skool bemark, as woordvoerder optree, personeel oplei, die Godsdiensforum verteenwoordig en die skoolkoor afgerig het. Sy glo dat leer altyd moontlik is en dat die woord “opgee” nie bestaan nie. Celeste geniet die unieke voorreg om die onmiddellike impak van onderrig te kombineer met die akademiese verdieping wat haar rol as akademikus bied – ’n balans wat haar toewyding en innoverende benadering tot onderwys bevestig.

Danielle Zimmerman, Victory Leadership Academy

Danielle Zimmerman is ’n 28-jarige onderwyseres van die Oos-Kaap met ’n hart vir kinders. Sy gee reeds tien jaar lank skool, meestal vir graad 4- tot 6-leerders, en leef haar roeping met toewyding en passie uit.

Haar groot liefde lê daarin om kinders te help wat sukkel, en om vir hulle te wys dat hulle meer kan bereik as wat hulle ooit gedink het moontlik is. Vir haar is die grootste vreugde die oomblik wanneer ’n leerder iets verstaan of regkry wat voorheen buite hul bereik gelyk het. Sy glo daarin om hoop te bring, gaan altyd uit haar pad vir haar leerders, hul ouers en kollegas, en sien haarself – hoewel sy nie biologiese kinders het nie – as ’n mamma vir die 35 wonderlike kindertjies wat sy elke dag mag onderrig.

Gideon Rodriguez Ruiz-Kock, Liebenberg Primêre Skool

Gideon Rodriguez Ruiz-Kock (43) is ’n trotse opvoeder by Liebenberg Primêre Skool in die Weskus-distrik. Sy roeping as onderwyser spruit uit sy eie kinderjare – ná sy ma se afsterwe in 1989 het hy moeilike omstandighede oorleef en besluit om ander te help om bo hul situasie uit te styg. Hierdie ervaring dryf sy passie vir leerderontwikkeling – akademies, sosiaal en emosioneel – en rig sy klaskamerpraktyke wat aktiewe leer, selfassessering en tegnologie insluit.

Sy betrokkenheid strek veel wyer as die klaskamer: Gideon fasiliteer naskoolse programme in Wiskunde en Tale, werk saam met maatskaplike ontwikkeling (Social Development) om leerders in nood te ondersteun, dien as ʼn mentor vir nuwe onderwysers, en speel ’n sleutelrol in projekte soos die BOT 1+9 Afrikaans Huistaal-program en die WOW-spelfees. Hy het ook hokkie by die skool gevestig en tree vandag selfs as skeidsregter op. Vir hom is onderwys meer as ’n beroep – dit is ’n roeping om hoop, geleenthede en trots te bring vir die leerders en gemeenskappe wat hy dien.

Hildegard Amon, Vergenoeg Primêr

Hildegard is reeds die afgelope 17 jaar ’n toegewyde en passievolle laerskoolonderwyser met ’n diepe liefde vir kinders en onderrig. Sy glo vas dat elke kind uniek is en streef daarna om ’n veilige, stimulerende en liefdevolle leeromgewing te skep waar leerders die selfvertroue kan ontwikkel om hul volle potensiaal te bereik.

Kayleigh Bell, Laerskool Horison

Kayleigh is ’n toegewyde en passievolle graad 1-onderwyseres wat elke dag vreugde aan jong kinders bring. Met haar warm glimlag en aansteeklike entoesiasme skep sy ’n koesterende omgewing waar leerders akademies, sosiaal en emosioneel kan floreer. Vir haar is dit ’n groot vreugde om te sien hoe vinnig kinders groei, leer en ontwikkel – en sy verruil haar graad 1-maats vir niks in die wêreld nie.

Buite die klaskamer is sy ’n energieke netbal-, vêrspring- en hokkie-afrigter, en deel sy ook haar liefde vir redenaars met die kinders. Met ’n fokus op spanwerk, vaardigheidsontwikkeling en sportmanskap inspireer sy leerders om hul passie na te streef, selfvertroue te bou en altyd pret te hê – of dit nou op die sportveld of in die klaskamer is.

Liezl van der Merwe, Laerskool Muldersdrif

Liezl van der Merwe is ’n toegewyde, innoverende en passievolle onderwyseres met 20 jaar onderwyservaring. Sy dien tans as graad 1-onderwyseres by Laerskool Muldersdrif. Sy glo dat hierdie vormingsjaar die fondament lê vir elke leerder se suksesvolle skoolloopbaan. Haar hart klop vir die Afrikaanse taal, en sy beskou dit as ’n roeping om ’n liefde vir leer aan te wakker en leerders met selfvertroue op hul leerreis te begelei. Leesontwikkeling lê haar veral na aan die hart, aangesien sy glo dit is die sleutel tot akademiese groei, kreatiewe denke en onafhanklike leer.

Buite haar akademiese rol is Liezl ook betrokke by kultuur en sport, waar sy karakter en selfvertroue by leerders help kweek. Sy glo in die krag van positiwiteit en kies aanmoediging bo kritiek, grasie bo veroordeling en geloof bo vrees. Haar grootste vreugde is die “aha”-oomblikke wanneer kinders konsepte vir die eerste keer verstaan, en sy streef daarna om elke dag ’n verskil te maak – een les, een glimlag en een aanmoediging op ’n slag.

Monique du Plessis, Laerskool Danie Malan

Monique du Plessis beskou dit as ’n groot voorreg om vandag onderwys te gee by dieselfde laerskool waar haar eie droom – om ’n juffrou te word – as ’n klein graad 1-leerder begin het. Ná sewe jaar in die onderwys poog sy steeds om ’n passievolle en toegewyde opvoeder te wees wat nie net kennis oordra nie, maar die harte en gedagtes van haar leerders raak. Vir haar is elke leerder uniek en waardevol – nooit net nóg ’n nommer of boek om te merk nie.

Sy is bekend vir haar sagte moederhart en streef daarna om ’n warm, verwelkomende klaskamer te skep waar kinders veilig, bemagtig en geliefd voel. Met geduld, vriendelikheid en toewyding wil sy nie net ’n onderwyseres wees nie, maar ook ’n mentor, veilige hawe en rolmodel. Vir Monique is dit ’n dankbare roeping om met God se kosbaarste skatte te werk en om deur entoesiasme en kreatiwiteit tot elke kind se groei en blom by te dra.

Tilana Fourie, Voorpos Primary School

Tilana is ’n trotse graad 5-opvoeder van Oos-Londen in die Oos-Kaap, met 29 jaar onderwyservaring. Sy beskik oor ’n graad in musiek, ’n onderwys, en teologie én verskeie ander kwalifikasies wat haar benadering tot onderrig verryk.

Haar toewyding en uitnemendheid is reeds landwyd erken. In 2022 is sy aangewys as een van die top-5 in Suid-Afrika tydens die National Teachers Awards vir uitnemendheid in primêre onderrig. In 2023 is sy deur SACE bekroon as die Beste Nasionale Onderwyser, en in 2025 is sy genomineer vir die Vrou van Suid-Afrika-toekennings.

Sy is passievol daaroor om onderwys só te vorm en te verbeter dat dit ’n blywende impak op toekomstige geslagte sal hê.

Zerilda Goliath, Laerskool Booysens

Zerilda is ’n passievolle onderwyseres wat daagliks daarna streef om ’n verskil in die lewens van haar leerders te maak. Sy glo vas dat elke kind uniek is en waardeer die voorreg om by te dra tot hul groei en ontwikkeling.

Haar liefde vir kinders dryf haar om altyd die ekstra myl te loop en ’n positiewe impak te hê – nie net akademies nie, maar ook in die vorming van selfvertroue en karakter. Vir haar is onderwys nie bloot ’n beroep nie, maar ’n roeping.


Solidariteit se Onderwysernetwerk wil graag diegene eer wat as inspirasie vir ander onderwysers en hul leerders dien. Ons glo dat elkeen ʼn belangrike rol speel in die vorming van ons kinders se toekoms. Skep vandag jou gratis Solidariteit-profiel en vorm deel van ‘n netwerk wat jou ondersteun! Onderwyser, jy hoort hier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel