loading
avatar
Artikels
20 uur gelede
loopbaanontwikkeling-webinaar-onderwyser-klim-die-loopbaanleer1

Fotokrediet: Solidariteit

Loopbaanontwikkeling-webinaar: Onderwyser, klim die loopbaanleer!

Het jy al ooit gewonder hoe jy as onderwyser jouself beter vir bevorderings kan posisioneer?

ʼn Bevorderingspos begin nie wanneer jy uiteindelik die moed bymekaarskraap om jou CV daarvoor in te stuur nie. Dit begin veel vroeër, by die verantwoordelikhede wat jy vandag aanvaar, die vaardighede wat jy ontwikkel en die manier waarop jy jou rol as onderwyser vervul.

Vir onderwysers wat graag van posvlak 1 na posvlak 2 wil groei, of mettertyd ʼn departementshoof, adjunkhoof of hoof wil wees, is daar een belangrike vraag: As jy môre in ʼn bevorderingspos aangestel sou word, watter bewyse kan jy vandag toon dat jy wel gereed is om daardie verantwoordelikheid te dra?

Dit is juis die vraag wat tydens die Solidariteit Onderwysernetwerk se loopbaanontwikkeling-webinaar op 21 Oktober 2026 onder die loep kom.

Bevordering begin vóór die pos geadverteer word

Wanneer ʼn bevorderingspos geadverteer word, is dit dikwels te laat om eers dan oor die nodige vaardighede te besin.

ʼn Onderwyser wat na ʼn volgende posvlak wil vorder, moet reeds in hul huidige rol wys dat hulle gereed is vir groter verantwoordelikheid. Dit behels meer as bloot die doeltreffende bestuur van ʼn klas. Alhoewel goeie klaskamerpraktyk en deeglike kurrikulumkennis die grondslag vorm, moet toekomstige skoolleiers ook kan leiding neem, kollegas ondersteun, verantwoordelikheid aanvaar en mense help ontwikkel.

Professionele gedrag, ʼn sterk werksetiek en goeie kommunikasie speel eweneens ʼn belangrike rol. Daarby word vaardighede soos konflikhantering, datahantering en emosionele intelligensie al hoe belangriker namate ʼn onderwyser meer verantwoordelikheid binne ʼn skool aanvaar.

Wat verwag jou skoolbestuurspan van jou?

Een van die grootste uitdagings met loopbaanontwikkeling is dat onderwysers nie altyd weet waarna ʼn skoolbestuurspan kyk wanneer hulle iemand vir ʼn bevorderingspos oorweeg nie.

Die webinaar gaan fokus op die eienskappe, vaardighede en praktyke wat onderwysers reeds vandag kan ontwikkel om hulself doelbewus vir toekomstige geleenthede voor te berei.

Die gesprek sluit onder meer in:

  • • goeie klaskamerpraktyk en kurrikulumkennis;
  • • leierskap en die vermoë om verantwoordelikheid te aanvaar;
  • • die ondersteuning en ontwikkeling van kollegas;
  • • professionele gedrag, werksetiek en doeltreffende kommunikasie;
  • • data- en konflikhantering;
  • • emosionele en sosiale intelligensie; en
  • • toewyding aan jou skool se visie.

Die doel is nie bloot om vir ʼn volgende pos voor te berei nie, maar om doelgerig te groei tot die soort onderwyser en leier wat reeds waarde in hul huidige rol toevoeg.

Bou doelbewus aan jou loopbaan

Loopbaanontwikkeling gebeur nie vanself nie. Dit vra dat jy eerlik kyk na waar jy tans is, waarheen jy wil groei en watter vaardighede jy nog moet ontwikkel om daar uit te kom.

Ongeag wat die volgende loopbaanstap vir jou mag wees, hierdie webinaar sal jou help om proaktief daarvoor voor te berei.

Besonderhede:

Datum: 21 Oktober 2026

Tyd: 18:00

Plek: Regstreeks op Solidariteit-aanlyn

Bespreek jou plek hier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel