Fotokrediet: Unsplash
Gekopieër
Solidariteit eis antwoorde oor minder onderwysposte in Mpumalanga
Solidariteit versoek dringend duidelikheid van die Mpumalanga-onderwysdepartement nadat verskeie skole op ʼn onverklaarbare wyse departementele verminderings in hulle toegewysde onderwysposte vir 2027 aangemeld het.
Sommige skole verloor poste selfs waar hulle leerdergetalle stabiel gebly of toegeneem het. Bevorderingsposte wat reeds gevul is, is ook summier uit sommige skole se diensstate verwyder.
Solidariteit se Onderwysernetwerk en Marius Botha-konsultante, met wie Solidariteit ʼn samewerkingsooreenkoms het, bedien gesamentlik meer as 25 skole en 1 200 onderwysers in Mpumalanga en het daarom besluit om ʼn skrywe aan die departementshoof, Lucy Moyane, te rig.
Volgens Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, kan dié verminderings in poste ernstige gevolge vir onderwysers en vir leerders in die provinsie inhou.
“Wanneer skole met dieselfde of meer leerders minder onderwysposte ontvang, beteken dit groter klasse, groter werkslading en moontlik minder vakkeuses.
“Onderwysers verdien om sekerheid oor hulle poste te kry en leerders verdien natuurlik ook behoorlike onderrig en ondersteuning,” sê Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk.
Die skrywe bevraagteken ook ’n moontlike vermindering van 528 poste in die provinsiale totaal, die leerderdata waarmee toekennings bereken is en die toepassing van “regstellingsfaktore” wat veronderstel is om historiese ongelykhede te verreken.
Marius Botha waarsku op sy beurt dat beheerliggame nie bloot die finansiële tekort wat hiermee geskep word kan aanvul nie.
“Skole moet nou hulle begrotings, roosters en personeelbehoeftes vir volgende jaar finaliseer. Waar staatsbefondsde poste wegval, kan beheerliggame onder druk kom om bykomende poste te finansier.
“Baie skoolgemeenskappe kan dit eenvoudig nie bekostig nie en word sodoende verder in ʼn krisis gedompel,” sê Marius Botha.
Solidariteit versoek ’n skriftelike antwoord teen 12 Oktober en ’n dringende vergadering om die saak te bespreek.
Die departement word ook versoek om geen onderwyser as oortollig te verklaar voordat hierdie navrae oor postoekennings nie volledig afgehandel is nie.
Die skrywe aan Moyane is aangeheg.