loading
Artikels
2 weke gelede
onderwyser-van-oos-moot-deur-solidariteit-bekroon

Foto Krediet: Solidariteit

Onderwyser van Oos-Moot deur Solidariteit bekroon

Deur Heléne Mocke

Solidariteit se Sterre in die Gemeenskap-glansgeleentheid het buitengewone mense in hul beroep op ʼn besonderse wyse vereer.

Hierdie toekennings, waar werknemers vir hulle unieke bydrae aan gemeenskappe bekroon is, het op Donderdagaand 5 Desember in Pretoria plaasgevind.

Johan Nolte, ʼn toegewyde onderwyser van Hoërskool Oos-Moot, is as Solidariteit se Hoërskoolonderwyser van die Jaar aangewys. Nolte, wat Rekenaartoepassingstegnologie (RTT), Inligtingstegnologie (IT) en Robotika aanbied, is bekend vir sy vindingrykheid en passie vir onderwys. Hy is ook die dryfkrag agter die skool se Christen-studievereniging  (Oosie-Lig) en het baanbrekerswerk gedoen deur e-sport (elektroniese sportsoorte) by die skool te vestig, wat nou as ʼn hoogtepunt op die skoolkalender beskou word.

“Ek het onderwys studeer as gevolg van ʼn visie wat die Here vir my gegee het,” sê Nolte. Hierdie visie het sy loopbaan gevorm en dien as inspirasie vir sy daaglikse werk.

“Met sy entoesiasme, kreatiwiteit en geloofslewe, is Johan Nolte nie net ʼn inspirerende onderwyser nie, maar ook ʼn ligdraer in die lewens van sy leerlinge en die gemeenskap,” sê Anlia Archer, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Onderwysernetwerk. “Dié toekenning bevestig Nolte sy diepgaande impak in die onderwys en sy toewyding om ander te dien,” sê sy.Top of Form

Die Sterre in die Gemeenskap-toekenningsgeleentheid is al vir die afgelope paar jaar ʼn hoogtepunt in die gemeenskap. Elke individu wat vir ʼn toekenning benoem is, word nie net in sy of haar eie hoedanigheid vereer nie, maar verteenwoordig die honderde ander wat hul gemeenskap met dieselfde onbaatsugtige diens dien en vir wie Solidariteit nie kon vereer nie omdat baie van die dade eenvoudig ongesiens plaasvind.

Dit was ook ʼn aand waartydens daar aan toekomsdrome gebou is. ʼn Skenking van meer as R19 000 000 is aan die Solidariteit Helpende Hand Studietrust oorhandig om toegewyde jong mense se studiedrome deur middel van rentevrye studiebeurslenings te bewaarheid.

Nóg ʼn skenking van meer as R30 000 000 is aan Solidariteit se opleidingsinstellings oorhandig om sodoende nóg Afrikaanse leef- en leerruimtes vir jong mense te bou.

Die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk se #Kantoorkampioen-wenner vir 2024 is Berné Grobler; die Solidariteit Ambagnetwerk se wenners is die #JouYster-wenner Stephen Bothma en die #JouYster-studiebeurswenner is Brandon Crous. Die #JongYster is Daru Pretorius en die #JongReus vir 2024 is T.J. van Eeden.

In die onderskeie kategorieë vir die Solidariteit Onderwysernetwerk se Onderwyser van die Jaar-kompetisie is die wenners soos volg: Kleuterskoolonderwyser van die Jaar is Lerine Roberts; Laerskoolonderwyser van die Jaar is Adriaan Pretorius.

Besonderse uitblinkers is met eretoekennings vereer: Dr. Angelique Coetzee vanuit die Solidariteit Doktersnetwerk; dr. Alida du Plessis-Faurie vanuit die Solidariteit Verpleegnetwerk; Ruan Wepener vanuit die Solidariteit Regsnetwerk; en Durandt Serfontein vanuit die Solidariteit Finansiesnetwerk.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel