loading
Blogs
3 dae gelede
ons-antwoord-vir-afrikaanse-onderwys-le-in-n-kombinasie-van-veg-beskerm-en-bou

Foto Krediet: Solidariteit

Ons antwoord vir Afrikaanse onderwys lê in ʼn kombinasie van veg, beskerm en bou

Dr. Dirk Hermann

Die stryd teen die Bela-wet gaan volstoom voort. Ons regspan het reeds opdrag gekry om voor te berei vir regstappe ná die publikasie van die promulgeringskennisgewing van die Bela-wet in die Staatskoerant.

Ons (Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum) het ons reg voorbehou om voort te gaan met regstappe teen die promulgering van die Bela-wet wanneer dit in die Staatskoerant gepubliseer word. Nou wil ons daardie reg uitoefen.

Die promulgeringskennisgewing is geensins voldoende nie. Wanneer dit by ons kinders kom, gaan ons nie tevrede wees met beloftes in ʼn verklaring van die president wat nie in die Staatskoerant verskyn nie. Die promulgering probeer radikales paai.

Ons is nie naïef nie. Die Bela-onderhandelingsproses het weereens bewys dat die ANC nie vertrou kan word nie. Gelukkig is ons nie afhanklik van die ANC se welwillendheid vir ons kinders se toekoms nie.

Ons sal veg, beskerm en bou.

Die Solidariteit Beweging, wat Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum insluit, gaan sy stryd vir moedertaalonderwys in die algemeen, en Afrikaanse onderwys spesifiek, in 2025 verskerp.

Ons gaan nie die stryd laat vaar nie, maar dit eerder verskerp.

Ons veldtog rus op drie pilare – veg, beskerm en bou.

Veg: Ons regspan berei reeds voor vir regstappe teen die promulgeringskennisgewing en die Bela-wet in sy geheel. Die Bela-wet, en spesifiek artikels 4 en 5, is boos en ons wil dit in die hof beveg.

Beskerm: Ons gaan ook alles moontlik doen om die ontwikkeling van norme en standaarde te beïnvloed wat Afrikaanse skole moet beskerm. Solidariteit het reeds ʼn ooreenkoms by Nedlac met die minister van basiese onderwys gesluit, wat sekere beskerming vir Afrikaanse skole bied. Ons sal verseker dat dit behoorlik geïmplementeer word.

Ons sal ook seker maak dat skole nie deur boeliegedrag van amptenare geïntimideer word nie.

In sy verklaring het die president gesê dat die minister eers norme en standaarde moet ontwikkel. Ons sal nie ʼn oomblik huiwer om amptenare, veral in Gauteng, hof toe te vat as hulle skole boelie nie. Ons is reg vir hulle.

Bou: ʼn Deel van die oplossing vir Afrikaanse onderwys lê in die bou van bekostigbare, onafhanklike skole. Hierdie proses moet nou momentum kry.

Ons antwoord vir Afrikaanse onderwys lê in die kombinasie van veg, beskerm en bou. Hierdie drie pilare sáám vorm ʼn kragtige strategie.

Ons het al ver gevorder met al drie bene van hierdie veldtog, en ons sal deurlopend daaroor kommunikeer.

Ramaphosa, Lesufi en kie onderskat hoe diep Afrikaanse mense oor onderwys in hul eie taal voel. Ons gaan nie ophou nie.

Afrikaanse onderwys is hier om te bly. Daaroor is ons seker. Lesufi kan op en af spring, maar hy sal dit nie kan keer nie – want dit is wie ons is. Ons sal veg, ons sal beskerm, ons sal self.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel