Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Solidariteit staan gereed vir Bela-boelies uit die ANC of EFF
Deur Pieter Jordaan
Geen regeringsamptenaar mag enige openbare skool met Bela-dreigemente oor toelating van leerders of die skool se taalbeleid intimideer nie.
Tog kan ons verwag dat, wanneer die skooldeure volgende week vir die 2025-skooljaar oopswaai, sulke politieke boewery wél hier en daar kan kop uitsteek.
Die EFF het sommer reeds vroeg in die nuwe jaar begin opsweep. “Neem ʼn skool aan en kyk dat Bela as ʼn skild teen rassistiese praktyke toegepas word,” blaf die aandaghonger rooispan.
Dit is moontlik ʼn voorsmakie van die oproer wat, veral vroeg in hierdie jaar, kan plaasvind. Dit is natuurlik hoofsaaklik ʼn politieke spel – die “pligsgetroue en vrome” skoolbesoeke, onverantwoordelike dreigemente of uitlatings, of selfs protes en ontwrigting voor ‘n skoolhek self.
Solidariteit moedig skole egter aan om sterk te staan. Daar moet onder geen omstandighede voor hierdie lawaaimakers gebuig word nie.
In ʼn radio-onderhoud met PretoriaFM raai dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, ouers en skole aan om enige sulke intimidasie dadelik onder Solidariteit se aandag te bring. Die Solidariteit Beweging veg nou meer as ooit vir die toekoms van Afrikaanse onderrig en sal beskerming gedurende hierdie tyd bied.
Skoolbestuur en -beheerliggame moet nou veral op hulle hoede wees vir opstokers soos Panyaza Lesufi en Matome Chiloane wat hul leiersposisies in Gauteng wil misbruik om ʼn magstryd in die ANC te voer, om hulle ideologie te bevorder en om Afrikaans ʼn nekslag toe te dien.
Groeperings soos dié is vyande van Afrikaans en sal hulle gesagsposisies graag misbruik om skole met Bela skrik op die lyf te jaag. Dr. Hermann stel dit weliswaar duidelik hoe die amptenare nie die reg het om dit te doen nie en voor die hof gedaag sal word as hulle dit probeer.
Alvorens die norme en standaarde oor die taal- en toelatingsklousules nie in plek is nie, mag daar na regte geen bevele daaroor uitgevaardig word nie.
Siviwe Gwarube van die DA het die taak om as minister van basiese onderwys verantwoordelikheid vir hierdie regulasies te neem deur norme en standaarde vir die klousules te ontwikkel vir wanneer dit wel toegepas gaan word. Solidariteit is van voorneme om deurgaans en deeglik by die ontwikkeling van norme en standaarde betrokke te wees, want dit raak ons lede én Afrikaans.
Hierdie administratiewe take moet alles eers deeglik afgehandel word voordat enige wetgewing afgedwing kan word. Dit selfs al het president Cyril Ramaphosa met die promulgering van die Bela-wet weereens so jammerlik misluk toe hy die knie voor die radikale faksie in die ANC gebuig het. Dit is immers die einste faksie wat hom as president uit die kussings probeer lig.
Die promulgering gaan ook deur die Solidariteit Beweging in die hof betwis word.
Nietemin moet skole daarvan kennis neem dat minister Gwarube eers die fyner besonderhede oor die toepassing van die taal- en toelatingsklousules moet opstel voor dit in werking kan tree. Wat veral belangrik is, is dat sy aan die wettige Nedlac-ooreenkoms met die Solidariteit Beweging gebonde staan. Dit is ʼn ooreenkoms wat sy ook erken – anders as die Presidensie wat dit ook onderteken het en dus eintlik ook daardeur gebind behoort te wees.
Volgens daardie ooreenkoms moet Afrikaanse skole tot ʼn groot mate die beskerming kry wat hulle voortbestaan as enkelmediumskole sal kan waarborg.
Solidariteit gaan toesien dat dit gedoen word en die stryd daarvandaan ook verder voer om ons kosbare Afrikaanse skole te beskerm, uit te bou én om moedertaalonderrig oor die algemeen te bevorder. Die Grondwet maak immers voorsiening vir enkelmediumskole se bestaan.
Dit is veral hier in Gauteng waar onmiddellike weerstand teen Bela-vergrype nodig mag wees. Dit is hier waar die Lesufi’s en Chiloane’s die septer probeer swaai. Let wel, wanneer die skooljaar volgende week begin, mag die amptenare skole nié oor taal en toelating dreig of intimideer nie.
Indien dit gebeur, moet daar dadelik met Solidariteit, die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) of met AfriForum geskakel word.
Solidariteit gaan intussen verseker dat norme en standaarde vir die klousules die nodige beskerming gee wat beloof is. Die voortydige promulgering van die Bela-wet deur Ramaphosa gaan ook in die hof uitgedaag word, en dreigemente van amptenare sal op geen vlak geduld word nie.
Dit alles terwyl daar binne die Solidariteit Beweging selfs harder gewerk gaan word aan ʼn onafhanklike alternatief vir Afrikaanse onderwys wat los staan van regeringsinmenging.
Die bal is reeds aan die rol vir ʼn nuwe netwerk van skole en hierdie onafhanklikheidstrewe verteenwoordig die onmisbare bou-element wat die idees van veg en beskerm ondersteun.
Dit is heel moontlik die belangrikste van alles.
Al hierdie oogmerke van veg, beskerm en bou is beslis ook moontlik. Tog is die voorwaarde daarvoor grootskaalse steun van ons almal – van skole, van onderwysers en van ouers en natuurlik van die Afrikaanse gemeenskap in die geheel.