
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Lid van Valke in Kimberley met meer as ’n halfmiljoen rand beloon
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is vir die soveelste keer oor die kole gehaal weens onbillike arbeidspraktyk met betrekking tot ’n kandidaat wie se aansoek om bevordering op ’n onbillike wyse afgekeur is.
Dit was ook die geval met lt. kol. Ralda Breedt wat ondanks haar jare se diens in die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI), oftewel die Valke, nie bevorder is nie sodat ’n minder geskikte kandidaat wél bevorder kon word.
Hierdie saak is voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) aangehoor, waar die kommissaris bevind het die SAPD kon nie daarin slaag om ’n rasionele of regverdige rede te gee waarom Breedt nie bevorder is nie.
Ook is die besluit om ’n minder geskikte kandidaat aan te stel, as ’n onbillike arbeidspraktyk ingevolge artikel 186(2)(a) van die Wet op Arbeidsverhoudinge bevestig.
Gedurende die aansoekproses het lt. kol. Breedt aansoek gedoen vir die pos van kolonel in die DPCI se Ondersoekeenheid na Ernstige Korrupsie in Kimberley. Sy het sedert 2019 as luitenant-kolonel in dié eenheid gedien en sy beskik ook oor jare se gespesialiseerde ondervinding in ondersoeke na korrupsie – onder meer binne die Departement van Openbare Werke en by Eskom.
Die onderhoudspaneel het haar gevolglik as die beste kandidaat aangewys en vir aanstelling in die pos aanbeveel. Tog is die aanbeveling deur die Modereringskomitee verwerp en die pos is toegewys aan ʼn kandidaat wat, volgens die arbitrasiebevel, nie aan die posvereistes voldoen het nie en nooit eens op die kortlys moes gewees het nie.
In die uitspraak het die kommissaris beslis dat Breedt onregverdig benadeel is en die volgende streng bevel is uitgereik:
- • die SAPD moet lt. kol. Breedt tot die pos van eenheidsbevelvoerder: ernstige korrupsie-ondersoeke (met die rang van kolonel) bevorder;
- • die bevordering moet terugwerkend in werking tree vanaf 1 Mei 2023;
- • die SAPD moet aan haar die volle vergoeding en voordele betaal wat op die pos betrekking het, naamlik ʼn totaal van R664 300, minus enige wettige aftrekkings; en
- • die bedrag moet teen 31 Julie 2025 betaal word.
Volgens Theunis van Staden, Solidariteit-organiseerder in die Openbare Bedryf, is hierdie uitspraak een van min waar nie net vergoeding toegestaan is nie, maar waar die bevordering self ook afgedwing word.
“Dit is ’n kragtige regstellende stap vir geregtigheid in die werkplek en ons is verheug dat ons lid op meer as een wyse vergoed word. Sy verdien dit, al was daar amptenare wat dit van haar wou ontneem,” sê van Staden.
Solidariteit het tydens die verhoor aangevoer dat ras ’n rol gespeel het in die besluit om haar aanstelling te verwerp en ’n minder bevoegde kandidaat aan te stel.
“Die pos is eerstens nie as ʼn gereserveerde regstellendeaksie-pos geadverteer nie. Ons het gesê Breedt se uitsluiting was op ras gegrond, sonder dat daar ’n genuanseerde toepassing van regstellende aksie was.”
“Die SAPD het versuim om sy eie beleid (Nasionale Instruksie 3 van 2015) toe te pas waarvolgens verskeie vereistes genuanseerd oorweeg moet word. Kwalifikasies, ondervinding asook die effek wat hierdie aanstelling op dienslewering het, moet onder andere in ag geneem word. Deur al hierdie vereistes oor die hoof te sien om slegs ras as vereiste daar te stel, word ’n absolute plafon geskep, wat reeds deur die Suid-Afrikaanse regstelsel as onregmatig beskou word. In hierdie geval was die aangestelde kandidaat se kwalifikasies en ondervinding onvoldoende, wat die aanstelling bloot op grond van ras soveel te meer skreiend maak,” sê Van Staden.
Van Staden sê hierdie sege vir ’n toegewyde lid is ook ’n uitspraak wat wys dat prosedure, meriete en billikheid steeds moet geld.
Hy meld dat hierdie uitspraak by ’n groeiende lys van suksesse gevoeg word wat Solidariteit namens SAPD-lede teen onbillike uitsluiting in die naam van transformasie behaal het.
Klik hier om die uitspraak te lees.