loading
Blogs
7 uur gelede
die-lig-in-n-donker-suid-afrika

Foto Krediet: Solidariteit

Die lig in ʼn donker Suid-Afrika

Deur Kyla-Ann du Toit

Hoe sou my wêreld sonder Solidariteit gelyk het?

My eerlike antwoord? Donker.

Ek weet dit is vreeslik dramaties! Maar in ʼn land waar dit voel asof die lig dof skyn (letterlik én figuurlik), sou daar volgens my, sonder Solidariteit, min tot geen hoop wees om aan vas te klou. Sonder daardie standvastige stem wat sê “Ons sal self,” sou daar net stilte wees – ʼn verlore kans van wat kón wees. Sonder daardie sterk wilskrag om te bou terwyl ander afbreek, sou daar net stof in die lug rondwaai.

Sonder Solidariteit sou daar nie ʼn Akademia wees wat my taal koester en die volgende generasie oplei om selfstandig en suksesvol te wees nie. Daar sou nie ʼn Sol-Tech wees wat jong mense met waardes én vaardighede toerus nie. Daar sou nie ʼn Solidariteit Helpende Hand wees wat die gebrokenes troos, studente finansieel ondersteun en honger kinders voed nie. Sonder Solidariteit sou daar nie bakens van hoop in ons gemeenskappe wees nie – slegs leë beloftes van wat kon wees nie.

My wêreld sonder Solidariteit… dit sou ʼn wêreld wees waarin ek moes leer om te swyg in plaas van my mening en idees deel. ʼn Wêreld waarin ek sou moes leer om te vlug in plaas van te veg. ʼn Wêreld waarin “Afrikaans” ʼn fluisterwoord sou wees – ʼn taal sonder ʼn tuiste en ʼn toekoms. ʼn Wêreld van wat kón wees.

Maar omdat Solidariteit wel bestaan, ís daar lig! Nie net in die fisiese strukture wat opgerig word nie, maar ook in die denke wat hul aanwakker. Solidariteit bou nie net geboue nie, maar hulle bou ook aan mense se toekoms. Hulle dink nie net aan strategieë nie, maar maak ʼn plan en dóén dit self. Hulle droom nie net nie, maar hulle skryf stories van hoop. Hulle wag nie vir toestemming nie, want hulle doen wat gedoen móét word. Vir my. Vir jou. Vir elke Suid-Afrikaner wat steeds glo dat dit óns land is. Hulle sê met trots en selfvertroue: jy hoort hier.

As Solidariteit nie bestaan het nie, sou ek dalk moes glo dat Amerika die enigste antwoord is. Maar omdat hulle bestaan, wéét ek dit is nie. Ek moet droom, bou, en werk – híér in my geboorteland, Suid-Afrika, waar my voorvaders geswoeg, gesweet en gebloei het vir waar ek vandag staan.

Want Solidariteit sê nie net “Jy hoort hier” nie – hulle wys ook hoekom en hóé.

ʼn Mens word net deur die donker oorweldig wanneer niemand die ligte aanskakel nie. Solidariteit het egter gekies om self die lig te wees – in gemeenskappe, vir jong mense en vir die toekoms van ons land. En of ek nou hard werk, ʼn Solidariteit-optog bywoon, my R204-lidmaatskapfooi betaal of eenvoudig net aanhou glo, dra ek by tot iets groter. Ek help om ʼn lig in ander se duisternis te wees. Wat ʼn voorreg om deel van só ʼn beweging te wees!

Sonder Solidariteit sou ek dalk moed opgegee het. Maar nou? Nou glo ek. Nou bou ek. Nou weet ek dat ek nie alleen is nie. Ek het die voorreg om in die lig te leef én om die lig te wees, omdat Solidariteit bestaan.

Dit is die lig in ʼn andersins baie donker Suid-Afrika.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel

loading

Soortgelyke artikels

similar article avatar

Orkney en sy hart

Nuus
10 Julie 2025