
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Sonder Solidariteit: ʼn lewe sonder hoop en gemeenskap
Deur Robin-Lee Maré
Die reuk van pannekoek en die klank van Afrikaanse krete op sportdae – sonder Solidariteit sou herinneringe soos dié dalk verlore gaan. Hulle veg vir ons drome en ons taal.
Die vraag: “Hoe sou my lewe sonder Solidariteit gelyk het?” dwing my om diep na te dink oor die kern van my identiteit en die waarde van gemeenskap. Solidariteit is meer as net ʼn vakbond; dit is ʼn steunpilaar van hoop, ʼn bastion van Christelike beginsels, en ʼn veilige hawe vir Afrikaners in ʼn land waar politieke en maatskaplike uitdagings oorweldigend is.
Die krag van gemeenskap
Sonder Solidariteit sou ek ʼn baie groot leemte in my lewe ervaar het: die verlies aan gemeenskap. Waar sou ek aanklop vir ondersteuning, inspirasie en ʼn netwerk van mense wat my drome verstaan en deel? Gemeenskap is die boublokke van ons samelewing, en Solidariteit speel ʼn deurslaggewende rol in die instandhouding daarvan. Hulle help om ons kultuur, taal en waardes te bewaar – dit wat diep met ons Afrikanerwees verweef is.
Ek dink aan die eenvoudige, kosbare oomblikke van skoolsportdae: die reuk van vars gebakte pannekoek, die Afrikaanse krete wat oor die pawiljoene weergalm, en die gevoel van samehorigheid. Sonder Solidariteit se stryd om Afrikaanse onderwysinstellings te beskerm en wetgewing soos die Bela-wet teen te staan, sou hierdie herinneringe dalk net vae drome gewees het.
Werkgeleenthede en gelykheid
As Solidariteit nie bestaan het nie, sou ek en my gesin moontlik gesukkel het om werk te kry. Rassewette soos regstellende aksie sou ons beperk het, en my drome sou dalk net dit gebly het – drome. Solidariteit veg egter teen hierdie onregverdighede, en hulle bied Afrikaners die geleentheid om nie net te oorleef nie, maar te floreer.
Hulle werkgebaseerde netwerke en opleiding skep geleenthede vir mense soos ek om ons potensiaal te bereik. Sonder hulle, sou ek dalk in ʼn werksmark beland het waar my moedertaal en kultuur as struikelblokke beskou is, eerder as aspekte om te vier.
Christelike beginsels: Die fondament van Solidariteit
Solidariteit se Christelike wortels resoneer diep met my eie oortuigings. Ons Afrikaneridentiteit is deurtrek met Christelike waardes soos harde werk, eerlikheid en die strewe na geregtigheid. Hierdie beginsels maak dat Solidariteit nie net ʼn vakbond is nie, maar ʼn etiese en morele gids vir ons samelewing. Hulle stem gee ʼn antwoord aan die NGV, ʼn beleid wat die reg op kwaliteit gesondheidsorg bedreig, en verseker ook dat ons kinders ʼn toekoms in hul moedertaal kan hê.
ʼn Hoopvolle toekoms
Met Solidariteit aan ons kant is ons sterker as ooit. Hulle herinner ons daaraan dat ons nie alleen is nie en dat ons geloof, gemeenskap en kultuur ʼn krag is wat selfs die moeilikste uitdaging kan oorwin. Hulle help ons om vir ons kinders dieselfde vreugdevolle, betekenisvolle kinderherinneringe te skep – oomblikke van saamwees, hoop en trots vir wie ons is.
Sonder Solidariteit sou ons wêreld kouer, armer en meer ontneem gewees het. Maar mét hulle is daar lig. Daar is drome. Daar is ʼn blink toekoms.