
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit vra steun in VSA teen Bidvest se rasseskema
Solidariteit het ʼn formele versoek aan die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, en groot Amerikaanse aandeelhouers in Bidvest Group Limited, gerig waarin dié organisasie vra vir onmiddellike optrede teen ʼn rassediskriminerende werknemersvoordelebeleid van Bidvest wat die kinders van wit Bidvest-werknemers in Suid-Afrika uitsluit.
Die stap volg in reaksie op groeiende openbare verontwaardiging en toenemende bewyse dat Bidvest ʼn ras-eksklusiewe opvoedkundige ondersteuningskema geïmplementeer het. Ingevolge hierdie beleid word wit werknemers en hul kinders eksplisiet uitgesluit van toegang tot sekere beurse en ontwikkelingsprogramme.
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, kom Bidvest se rasseskema op sistemiese rassediskriminasie neer wat spesifiek die kinders van wit werknemers in die laagste inkomstegroepe teiken.
“In plaas daarvan om alle werknemers wat nie skoolgeld, skryfbehoeftes en ander noodsaaklikhede vir die onderrig van hul kinders kan bekostig nie, te ondersteun, het Bidvest besluit om weerlose wit kinders uit te sluit en die voordele streng op grond van ras net aan swart, Indiër- en bruin werknemers se kinders beskikbaar te stel,” sê hy.
Volgens Solidariteit het die organisasie die Amerikaanse regering en Amerikaanse aandeelhouers van Bidvest genader juis omdat die huidige Amerikaanse regering streng teen rassewette gekant is en ook omdat Bidvest wesenlike Amerikaanse aandeelhouding het. Ongeveer 25% van Bidvest se aandele word deur Amerikaanse institusionele beleggers gehou, insluitend groot Amerikaanse batebestuursfirmas.
Volgens Hermann het Solidariteit briewe aan Marco Rubio, die VSA se minister van buitelandse sake en aan die uitvoerende hoofde van Westwood Global Investments en Lazard Asset Management gerig.
Solidariteit se versoeke sluit die volgende in:
- • ʼn Versoek aan die Amerikaanse regering om hom teen rassewette in Suid-Afrika en die diskriminerende wyse waarop dié wette toegepas word, uit te spreek. Die Amerikaanse regering moet Suid-Afrika se rassewette tydens die onderhandelinge vir ʼn handelsooreenkoms met die VSA bespreek en moet daarop aandring dat sodanige wette uitgefaseer word.
- • Die Amerikaanse regering moet Bidvest se beleid ondersoek en met die Suid-Afrikaanse regering op diplomatieke vlak skakel om te verseker dat sodanige rasse-uitsluiting nie deur die Suid-Afrikaanse regering afgedwing of goedgepraat word nie.
- • Amerikaanse aandeelhouers in Bidvest is versoek om hulself in die openbaar van hierdie ras-uitsluitende beleid te distansieer en om hul aandeelhouersinvloed te gebruik om Bidvest te dwing om die beginsels van gelykheid en niediskriminasie te handhaaf.
Terwyl die VSA sy diversiteit-, billikheid- en insluitingsbeleide (DEI-beleide) aktief uitfaseer, is Suid-Afrikaanse maatskappye soos Bidvest, dikwels onder druk van die Suid-Afrikaanse regering, maar toenemend ook uit eie oortuiging, besig om diskriminerende praktyke, gebaseer op volledige rasse-uitsluiting, tot nadeel van ʼn klein wit minderheid op te skerp.
“Ons is baie positief oor die idee dat ʼn reusemaatskappy soos Bidvest laerinkomstewerknemers se kinders ondersteun. Om egter arm kinders volledig uit te sluit bloot omdat hulle wit is, is onaanvaarbaar en ons glo dat die Amerikaanse regering en Amerikaanse aandeelhouers in Bidvest dit met ons eens sal wees hieroor,” aldus Hermann.
Die briewe beklemtoon ook die reputasierisiko’s vir Amerikaanse beleggers wat verband hou met passiewe medepligtigheid aan rasdiskriminerende praktyke in die buiteland en vra vir ʼn belyning van die waardes wat deur Amerikaanse instellings tuis bevorder word en dié wat deur hul buitelandse beleggings onderskryf word.
Solidariteit beplan om meer druk op Bidvest, maar ook op ander Suid-Afrikaanse maatskappye wat ʼn absolute uitsluiting van wit mense en selfs gedikteerde diskriminasie teen wit mense voorskryf, uit te oefen en om sulke maatskappye voor stok te kry.