loading
Artikels
1 dag gelede
solidariteit-gaan-in-vsa-oor-tariewe-agoa-praat-na-regering-faal

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit gaan in VSA oor tariewe, Agoa praat ná regering faal

Solidariteit berei tans voor vir verdere gesprekke met die Amerikaanse regering oor tariewe, Agoa en selfs ʼn post-Agoa-bedeling.

Dit volg nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, Suid-Afrika met ʼn skrywe in kennis gestel het dat die 30%-invoertarief op 1 Augustus in werking sal tree. In die afwesigheid van ʼn regering wat bereid is om, veral in die kritieke tyd met die Amerikaners te onderhandel, gaan Solidariteit nogmaals tot ʼn baie belangrike stryd toetree.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die Amerikaners dat hulle graag ʼn ooreenkoms met Suid-Afrika wíl sluit, maar dat die bal in Suid-Afrika se baan is.

“Suid-Afrika speel egter nie die bal nie. Inteendeel, die regering slaan dit voortdurend uit die baan en neem nie deel aan die spel nie,” sê Hermann.

Solidariteit het vroeër die week ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om verby ideologiese en politieke arrogansie te kyk en om die waarde van die VSA as handelsvennoot te erken.

Aangesien ons regering egter aanhou voete sleep, word ander gedwing om in te gryp.

“Solidariteit verteenwoordig gewone werkende mense. Dit is húlle wat die koste van tariewe betaal,” sê Hermann.

“Ons gaan namens hulle intree en namens alle Suid-Afrikaners wat werk en bloot ʼn goeie inkomste vir hul gesinne wil verdien. Want die regering het ons gefaal.”

Hermann verduidelik dat deel van Solidariteit se strategie is om ʼn afvaardiging na Amerika te stuur om uitsluitlik op hierdie kwessie te fokus.

Solidariteit het reeds omvattende dokumentasie oor die Agoa-handelsooreenkoms aan die Amerikaanse regering oorhandig en het aan verskeie forums by die Amerikaanse Kongres oor die hersiening van Agoa deelgeneem.

As een van die erkende arbeidsbelanghebbendes, word Solidariteit se standpunt in hierdie Amerikaanse forums aangehoor.

Amerikaanse amptenare het ook reeds in duidelike terme die vereistes vir ʼn gunstiger tarief vir Suid-Afrika uiteengesit: Verseker eiendomsreg, skrap rasvereistes en moenie Amerikaanse belange bedreig nie.

Volgens Hermann luister Suid-Afrika eenvoudig nie na wat sy grootste handelsvennoot vra nie.

“Die land oorskat homself en stel ons só bloot. Solidariteit gaan dus ook met die Suid-Afrikaanse regering in gesprek tree met ʼn versoek om dringend gesprekke met die Amerikaanse regering te hervat. Daar ís steeds ʼn geleentheidsvenster.

“Hulle moet minder ideologies wees en meer pragmaties optree. Ons gaan vir hulle wys hoe hul roekelose diplomatieke beleid gewone Suid-Afrikaners raak.

“Hulle kan nie net aangaan soos wat hulle aangaan nie,” sluit Hermann af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel