loading
Artikels
1 maand gelede
ons-bou-want-jyhoorthier

Foto Krediet: Akademia

Ons bou, want #JyHoortHier!

Deur Ané Janse van Rensburg

Die Afrikaanse gemeenskap het nog altyd ʼn diepgewortelde liefde vir hul taal en kultuur gekoester, en dit is hierdie liefde wat nou gestalte kry in die indrukwekkende Toekomsbouer-veldtog. Hierdie veldtog is nie net ʼn bouprojek nie, maar ʼn getuienis van kulturele trots en ʼn daadwerklike stap teen die toenemende verskraling van Afrikaanse leefruimtes.

ʼn Visie van hoop en volhoubaarheid

Die ontwikkeling van ʼn nuwe kampus vir Akademia, waarvan die totale koste meer as R3,1 miljard beloop, is die grootste ontwikkelingsprojek wat nog in die geskiedenis van die Afrikaanse taalgemeenskap aangepak is. Die projek is die toonbeeld van ons gemeenskap se strewe om homself ten volle uit te leef, en ʼn toekoms vir Afrikaanse hoëronderwys te verseker. Fase een van hierdie kampus, wat teen 1 Januarie 2028 voltooi sal wees teen ʼn koste van nagenoeg R2,09 miljard, sal ʼn monument wees van wat bereik kan word wanneer ʼn gemeenskap saamstaan.

Kanton Beleggings, as die eksklusiewe ontwikkelingsmaatskappy, bied die perfekte voertuig vir die gemeenskap om hierdie droom te verwesenlik. Deur jou belegging in Kanton dra jy direk by tot die bou van ʼn toekoms waarin Afrikaanse hoëronderwys kan floreer.

My belegging, my belofte

Om in Kanton te belê, is om veel meer te doen as om net ʼn finansiële opbrengs te kry. Dit is ʼn belofte aan die volhoubaarheid van ons taal, ons kultuur en ons toekoms. Jou bydrae lewer ʼn kulturele dividend wat ver bo enige finansiële voordeel uitstyg.

Alhoewel ons nie skuld dra aan die verval van ons nasionale instellings nie, is dit ons verantwoordelikheid om saam te werk aan ʼn beter toekoms. Die oplossing lê by elkeen van ons. As jy ook oor die toekoms twyfel, is dit tyd om daaraan te bou en om dit saam met ons te bou.

Ek is in! Wat nou?

Die pad vorentoe is eenvoudig. Deur drie maklike stappe kan jy ʼn vennoot word in hierdie grootse projek en sodoende die fondament lê vir Afrikaanse uitnemendheid vir geslagte wat kom.

1. Belê in Kanton: Deur direk in Kanton te belê, word jy ʼn bydraer tot en ondersteuner van die nuwe Akademia-kampusontwikkeling. Dit help Kanton ook om sy mandaat verder uit te voer wat ʼn volhoubare vennootskap tussen kultuur en kapitaal tot stand bring.

2. Ondersteun Akademia: Bly op hoogte van die vordering van die Akademia-kampusontwikkeling deur in te skakel op al die amptelike kommunikasiekanale, insluitend Kanton se nuusbrief en sosialemediaplatforms.

3. Word ʼn toekomsbouer: Deel jou betrokkenheid by Kanton en die nuwe Akademia-kampusontwikkeling op al jou openbare platforms. Nooi vriende, familie en kollegas om by jou aan te sluit in hierdie strewe om ons erfenis te bewaar en ʼn blink toekoms vir ʼn ontluikende generasie te bou.

ʼn Belegging in die volhoubaarheid van Afrikaanse hoëronderwys is ʼn belegging in die toekoms van ons taal, ons mense en ons land. Dit is Solidariteit se wekroep dat ons as Afrikaanse gemeenskap saam droom oor die Afrikaanse taal en kultuur en dit saam bou. Staan op en word ʼn toekomsbouer, want #JyHoortHier !

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel