
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
#OnsBloedIsOranje: Ons vier Afrikaans-wees!
Steve Hofmeyr se nuwe liedjie, Oranje, en die #OnsBloedIsOranje-veldtog vier Afrikanertrots, eenheid en kultuur. Oranje simboliseer ons taal, erfenis en gees. AfriForum en Solidariteit ondersteun hierdie veldtog ter viering van die Afrikaner se onwrikbare gees. Kyk die musiekvideo en lees meer hier:
Deur Ané Janse van Rensburg
Afrikaners is ʼn trotse volk met ʼn diepgewortelde geskiedenis in Afrika, ʼn ryk erfenis en ʼn taal wat ons harte warm laat klop. Hierdie trots en verbondenheid aan ons kultuur word nou met kleur gevier! Met die bekendstelling van Steve Hofmeyr se nuwe liedjie, Oranje, en die veldtog #OnsBloedIsOranje, word ʼn boodskap van eenheid, trots en kultuur breëbors deur elke Afrikaner gesing.
Hoekom oranje?
‘Dit is die kleur van die Afrika son; die Oranjerivier se magtige drom; dit is die kleur van die taal van ons hart. Dit is wat ons Afrikaners maak!’
Kyk die musiekvideo hier: “Oranje”-musiekvideo
Oranje is meer as net ʼn kleur – dit simboliseer ons moedertaal, ons kultuur en ons onwrikbare Afrikanertrots. Dit is die kleur van die Afrika-son wat op ons vel weerkaats, die magtige Oranjerivier wat deur ons land vloei, en die vurigheid van ʼn Afrikanerhart. Dit is ʼn kleur wat ons identiteit verteenwoordig, en ons roep om op te staan en ons trots te wys.
Steve Hofmeyr se nuwe treffer, “Oranje”, bring hierdie simboliese betekenis tot lewe. Die lirieke spreek van ʼn gedeelde geskiedenis, ʼn volharding deur uitdagings en ʼn liefde vir Afrikaans wat ons onwrikbaar aan mekaar verbind.
Afrikanertrots in aksie
Die #OnsBloedIsOranje-veldtog is meer as net ʼn liedjie – dit is ʼn beweging. Dit begin met die vrystelling van die liedjie en musiekvideo op 21 Februarie en gaan verder met ʼn spesiale #TrekJouRegAan-geleentheid op 21 Maart. Dit moedig almal aan om hul Afrikanertrots te wys deur iets oranje te dra, die liedjie te deel en deel te neem aan hierdie golf van kulturele bewusmaking.
AfriForum en Solidariteit ondersteun hierdie veldtog ter viering van die Afrikaner se onwrikbare gees. Dit is ʼn oproep tot eenheid, ʼn herinnering aan ons ryk erfenis en ʼn aansporing om Afrikaans met trots te gebruik en uit te dra.
Hoe jy jou oranje bloed kan wys
Buiten om na die liedjie te luister kan jy jou oranje-oomblik deel deur ʼn foto van iets wat vir jou Afrikanertrots simboliseer byvoorbeeld ʼn sonsondergang, ʼn braaivleisvuur, of selfs jou gunsteling- oranje hemp, en dit dan op sosiale media plaas met die hutsmerk #OnsBloedIsOranje.
Oranje vereer ons kultuurleiers
As deel van die veldtog word Die Orde van Oranje-toekennings toegeken aan persone wat ʼn betekenisvolle bydrae tot Afrikaans en Afrikanerkultuur lewer. Van akademici en taalaktiviste tot sangers wat ons verhale vertel – hierdie toekennings is ʼn erkenning aan daardie individue wat diep spore in ons gemeenskap trap.
Wat beteken oranje vir jou?
Afrikaners het ʼn storie om te vertel en nou het ons ʼn lied om dit te sing. “Oranje” herinner ons aan ons ryk geskiedenis, ons stryd en ons drome vir die toekoms. Wat beteken hierdie lied vir jou? Laat weet ons in die kommentare en vier saam met ons die kleur van ons bloed!
#OnsBloedIsOranje – sing saam, wees trots en wys jou oranje bloed!