loading
Artikels
1 dag gelede
ontwikkel-jou-sagte-vaardighede-dit-is-die-sleutel-tot-jou-loopbaansukses

Foto Krediet: OkayDeer

Ontwikkel jou sagte vaardighede – dit is die sleutel tot jou loopbaansukses

Deur Maryna Eksteen

Solidariteit se hart klop al sedert 1902 werk! Daarom is dit nie net vir ons belangrik dat ons lede goed moet werk nie, maar ook hul volle potensiaal moet kan bereik. Solidariteit maak dus ʼn punt daarvan om jou nie net deur voortgesette leer te bemagtig nie, maar ook deur wenke en raad van kenners uit die wêreld van werk te deel.

Sagte vaardighede speel ʼn groot rol in jou loopbaansukses. Die skrywer en loopbaanafrigter Ben Meer se plasing op LinkedIn, “9 soft skills”, beklemtoon eenvoudige maar kragtige strategieë wat elkeen van ons kan gebruik om ons loopbane te versnel en sterk verhoudings in die werkplek te bou.

Solidariteit se lede, wat verbind is tot selfstandigheid en volhoubare loopbane, kan groot baat vind by hierdie vaardighede:

1. Doen moeite om mense belangrik te laat voel

Volgens die “Seen, Heard and Remembered”-metode is dit belangrik om mense te laat voel dat hulle gesien, gehoor en onthou word. Vir Solidariteit se lede, wat dikwels in gespesialiseerde en samewerkende velde werk, is die vaardigheid om opregte komplimente te gee en gesprekke persoonlik te maak ʼn waardevolle manier om ʼn netwerk te versterk.

2. Verfyn jou lyftaal

Die 7-38-55-reël wys dat kommunikasie grootliks nieverbaal is. Deur oogkontak te maak en selfversekerd op te tree, kan jy jouself beter posisioneer as ʼn leier of waardevolle spanlid. Hierdie vaardigheid kan lede help om sterker bydraes in hul spanne en beroepe te maak.

Volgens Meer sal mense aanklank vind of nie op grond van 7% van jou woorde, 38% van jou stemtoon en gesigsuitdrukking, en 55% van jou lyftaal.

3. Gebruik die 4-punt-metode

Mense in bestuursposisies is besig en kan soms vergeet watter take hulle aan jou toevertrou het. Benadruk duidelikheid en doeltreffendheid in jou kommunikasie. Wanneer jy terugvoer oor projekte gee, gebruik ʼn eenvoudige raamwerk: wat gevra is, wat gedoen is, uitdagings en moontlike verbeterings.

4. Neem jou kommunikasievaardighede op

Dit is ʼn ongewone, maar tog doeltreffende strategie: Neem jou oproepe of gesprekke op, en evalueer en verbeter dit. Dit help jou om selfversekerd en professioneel voor te kom, iets wat noodsaaklik is in ʼn werksonderhoud en professionele interaksies.

5. Bou ʼn netwerk met die regte vrae

Sterk verhoudings begin met die regte vrae. Solidariteit-lede kan hierdie vrae gebruik om bande met kollegas en kliënte te versterk. Deur net oor iemand se familie of planne te vra, toon jy opregte belangstelling – ʼn sleutel tot samewerking en vertroue wat jou bo jou mededingers in die werkplek sal laat uitstaan. Meer meen dat jou netwerk jou waarde is.

6. Stuur “Vrydag-hoogtepunte”

As jy ʼn nuwe aanstelling in die werkplek is, kan hierdie wenk jou help om uit te staan. ʼn Eenvoudige weeklikse e-pos waarin jy jou prestasies en beplande take deel, help jou om vertroue te bou en jou sigbaarheid in jou span te verhoog. Solidariteit-lede wat in spangebaseerde beroepe werk, kan hierdie metode gebruik om hul loopbaanbestuur te verbeter.

7. Moenie kla of skinder nie

Integriteit en professionaliteit is kernwaardes. Mense wat dikwels in eties-sensitiewe beroepe werk, moet altyd daarop fokus om oplossings te bied eerder as om probleme te vergroot.

8. Maak ʼn punt daarvan om almal se name te onthou

Mense hou van mense wat hulle name onthou! Of jy nou in ʼn vergadering is of ʼn nuwe kliënt ontmoet, om mense op die naam te noem, toon respek en toewyding.

9. Stel vir jouself ʼn doelwit om voortgesette leer toe te pas

Meer stel voor dat jy jou kennis voortdurend uitbrei deur daagliks te lees en te leer. Solidariteit-lede het gratis toegang tot nagenoeg 150 verskillende beroepspesifieke kursusse op Solidariteit se leerportaal wat jou kan bemagtig, insluitend konflikbestuur en finansiële bestuur. Gebruik hierdie geleenthede om jou vaardighede te versterk.

Deur hierdie sagte vaardighede te bemeester, kan Solidariteit-lede meer as net waardevolle werknemers wees – hulle kan leiers in hul velde word. Gebruik Solidariteit se werkplatform om jou loopbaandoelwitte te bereik. Onthou: Jou netwerk en vaardighede bepaal jou waarde!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel