Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Werksekerheid in ʼn onseker arbeidsmark: Wat is jou regte?
As jong werkende kan dit soms voel asof jou werksekerheid voortdurend op die spel is. Dit kan veral uitdagend wees om bewus te bly van jou regte in die werkplek. Daar is gelukkig maniere om jou posisie te versterk en teen onbillike praktyke op te tree. Hoe meer jy oor jou regte weet, hoe beter sal jy voorbereid wees om enige hindernisse te oorkom en jou werksekerheid te beskerm.
Jou regte as werknemer
Elke werknemer het regte wat hulle teen onbillike behandeling beskerm. Hierdie regte word gewaarborg deur wetgewing soos die Wet op Basiese Diensvoorwaardes en die Wet op Arbeidsverhoudinge, wat basiese regte vir werknemers vaslê. Hier is ʼn paar sleutelaspekte wat elke jong werknemer moet verstaan:
- 1. Kontraktuele beskerming: Jou dienskontrak is jou eerste en belangrikste vorm van beskerming. Dit stel die reëls en regulasies tussen jou en jou werkgewer vas. Jy het die reg om ʼn skriftelike dienskontrak te ontvang wat jou werkvoorwaardes, salaris, werksure en voordele duidelik uiteensit. Lees altyd jou kontrak noukeurig deur voordat jy dit teken, en moenie skaam wees om vrae te vra as iets onduidelik is nie. Onthou, hierdie dokument kan jou beskerm indien enige iets sou ontstaan.
- 2. Reg op ʼn veilige werkplek: Elke werknemer het die reg om in ʼn veilige en gesonde omgewing te werk. Die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid verseker dat werkgewers verantwoordelik is om ʼn veilige werkplek te skep. As jy voel dat jou veiligheid in gevaar is, het jy die reg om dit aan te meld sonder vrees vir benadeling. Jy kan ook weier om te werk onder omstandighede wat jou lewe of gesondheid ernstig bedreig.
- 3. Onbillike afdankings: ʼn Werkgewer mag nie net iemand sonder goeie rede afdank nie. Afdankings moet regverdig en billik wees, en moet gebaseer wees op geldige redes soos swak werkverrigting, wangedrag of besigheidsredes. As jy voel dat jy onregverdig behandel word of onbillik afgedank is, kan jy dit by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) aanmeld vir hulp en ondersteuning.
Hoe kan jy jouself beskerm?
Selfbeskerming in die werkplek begin met kennis. Ken jou regte en wees bewus van die hulpbronne tot jou beskikking. Hier is ʼn paar praktiese wenke om jou te help om veiliger in jou werkplek te wees:
- 1. Dokumenteer alles: Hou rekord van alle belangrike kommunikasie, soos e-posse en aantekeninge van vergaderings. As iets nie in jou guns gebeur nie, het jy dokumentasie wat jou saak kan staaf.
- 2. Kry regshulp: As jy onseker is oor jou regte of voel dat jy onregverdig behandel word, kan jy regshulp kry. Solidariteit beskerm jou in die werkplek en is ʼn uitstekende hulpbron vir werknemers wat op soek is na regsadvies en beskerming teen onregverdige praktyke.
- 3. Opleiding en kennis: Om jou loopbaan te bevorder en jou werksekerheid te versterk, is dit belangrik om jou vaardighede op datum te hou. Oorweeg dit om kursusse soos dié wat op Solidariteit beskikbaar is, te voltooi. Solidariteit het byna 150 kursusse vir voortgesette leer beskikbaar. Van kontrakreg tot werksveiligheid, daar is baie opleidingsgeleenthede wat jou kan help om beter voorbereid te wees vir enige moontlike werkverwante uitdagings.
- 4. Raak deel van ʼn beroepsnetwerk Solidariteit bied nie net regshulp nie, maar ook ʼn netwerk van werknemers wat mekaar ondersteun. Dit kan waardevol wees om te weet dat jy nie alleen is nie – ander werknemers ervaar dalk dieselfde uitdagings as jy. Sáám kan julle sterker staan.
Wees proaktief in jou beskerming
Om jouself teen onregverdige arbeidspraktyke te beskerm, beteken dat jy nie moet wag totdat iets skeef loop nie. Wees proaktief deur jou regte te ken en jou kennis en vaardighede voortdurend te verbeter. Sluit aan by ʼn organisasie wat jou belange op die hart dra – Solidariteit beskerm lede teen diskriminasie en uitbuiting in die werkplek. Klik hier en sluit binne ʼn minuut by Solidariteit aan.
In ʼn onsekere arbeidmark kan dit voel asof jy nie altyd beheer oor jou situasie het nie, maar deur jou regte te ken en toegang tot die regte hulpbronne te hê, kan jy beheer oor jou toekoms neem. Jou loopbaan is in jóú hande, en met die nodige kennis en ondersteuning kan jy enige uitdaging trotseer!