
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Ope brief aan die Eskom-direksie oor rasbeleid en vaardighede
Solidariteit doen in ʼn ope brief aan die Eskom-direksie ʼn ernstige beroep op dié direksie om Eskom se bedryfsbehoeftes bo rassetransformasie te stel. Dit volg ná ʼn voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee oor elektrisiteit en energie waarin beklemtoon is hoe ʼn gebrek aan ervaring by Eskom die bestuur van steenkoolkragstasies kniehalter. Hier is Solidariteit se ope brief.
Aan lede van die Eskom-direksie
Vaardighede, transformasie en nasionale verantwoordbaarheid – tyd vir dapper leierskap
Suid-Afrikaners het met ʼn mengel van wanhoop en versigtige hoop toegekyk hoe Eskom se uitdagings ontvou. U onlangse verslag aan die parlement, wat die erns erken van Eskom se vaardigheidstekort en die voortdurende operasionele beperkings wat hy in die gesig staar, bevestig dít wat baie gevrees het: die nutsmaatskappy ly steeds aan ʼn diep institusionele kapasiteitskrisis.
Ons erken dat daar ʼn mate van operasionele verbetering sedert die aanstelling van die huidige direksie en uitvoerende bestuur was. In vergelyking met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar het beurtkrag afgeneem. Dit dui op ʼn bemoedigende voorneme en fokus. Soos die Daily Investor egter op 15 Mei 2025 berig het, wil dit voorkom of hierdie vordering opnuut ʼn plato bereik het. Eenhede faal steeds kort nadat hulle weer in diens gestel is, en Eskom bly op eksterne kontrakteurs staatmaak vir kernbedrywighede.
“Eskom has lost so many skilled employees that it now requires assistance from external companies and original equipment manufacturers to run its power stations.” – Daily Investor, 15 May 2025
Dit is nie ʼn nuwe probleem nie – dit is die direkte gevolg van Eskom se eie beleide. Die nutsmaatskappy het jare lank ʼn aggressief ideologiese benadering tot transformasie gevolg en rigiede demografiese teikens bo operasionele noodsaaklikheid verhef. Die gevolglike uittog van vaardige professionele persone het kragstasies blootgestel gelaat, institusionele geheue is uitgeput, en openbare vertroue is verpletter.
Solidariteit het in 2022 op ʼn direkte versoek om hulp gereageer deur ʼn lys van meer as 300 gekwalifiseerde en ervare tegniese professionele persone, waarvan talle voorheen by Eskom werksaam was, voor te lê. Gesamentlik verteenwoordig hulle meer as 5 500 jaar se ingenieurs- en bedryfskundigheid. Hierdie individue was bereid om terug te keer, as mentors op te tree en om Eskom se herstel te ondersteun – desnieteenstaande is slegs 18 aangestel.
“Eskom’s internal political environment and transformation concerns have hamstrung its ability to make full use of available expertise .” – MyBroadband, 29 September 2022
Ons glo die tyd het aangebreek dat die direksie erken wat die publiek reeds weet: die ideologiese onbuigbaarheid wat tot die verlies van hierdie vaardighede gelei het, was ʼn fout, en om dit te herhaal is onaanvaarbaar. Die las van beurtkrag word nie tot gelyke mate gedra nie. Dit rus die swaarste op die armes en kwesbares. Dit ontwrig toegang tot gesondheidsorg, onderwys, veiligheid en tas waardigheid aan. Wanneer ideologie bo impak verhef word, is die resultaat nie transformasie nie – dit is regressie.
Voorts vestig ons die direksie se aandag op die bindende ooreenkoms wat tussen Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering bereik is en wat op 31 Oktober 2024 ʼn bevel van die arbeidshof gemaak is. Hierdie ooreenkoms, wat onder toesig van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) bemiddel is, definieer nou die regsgrense vir gelyke indiensneming in Suid-Afrika.
Ingevolge die hofbevel en ooreenkoms:
– moet rasbeleid tydelik, en nie permanent nie, wees;
– mag ras nie die enigste faktor wees wanneer gelyke-indiensnemingsplanne opgestel word nie;
– moet die poel van beskikbare vaardighede en die werkgewer se operasionele behoeftes sentraal staan;
– is ontslag, uitsluiting of aanstellings wat suiwer op grond van ras gemaak of verbeur is, onregmatig; en
– mag werkgewers ingevolge die wet van rigiede rasplanne afwyk op grond van regmatige sakebehoeftes.
Hierdie bepalings is nie bloot adviserend van aard nie. Hulle het regskrag. As ʼn openbare nutsmaatskappy is Eskom grondwetlik verplig om daaraan te voldoen. Die einste regulasies wat eens gebruik is om huidige praktyke te regverdig, is nou volgens wet ongeldig. Om met rasse-rigiditeit vol te hou, is nie net operasioneel roekeloos nie – dit is onwettig.
Solidariteit is weereens bereid om te help. Indien Eskom sy bereidwilligheid toon om aan die hofbevel te voldoen, en ʼn beginselvaste, bevoegdheidsgebaseerde benadering tot herstel aan te neem, is ons gereed om ʼn nuwe lys van vaardige professionele persone voor te lê wat bereid is om die nutsmaatskappy se heropbou te ondersteun.
Dit is ʼn beslissende oomblik vir Eskom en vir Suid-Afrika. Die nasie hou dop – nie net dat die ligte aanbly nie, maar dat leierskap deurskemer.
Die uwe
Helgard Cronje
Adjunkhoofsekretaris: Openbare Sektor