Foto Krediet: Facebook | Jacinta MaNgobese Zuma
Gekopieër
Optogte Op 30 Junie: Berei Jouself Só Voor
Leré Nel
Die beplande March and March-optogte op 30 Junie 2026 het die afgelope week groot opslae gemaak.
Dreigemente van optrede teen buitelanders – wat nie net tot onwettige immigrante beperk is nie – was volop. Daar is selfs ʼn video gedeel waarin dreigemente teen wit Afrikaners gemaak word.
Hoewel sulke plasings kommer wek, sê Theunis van Staden, organiseerder van Solidariteit se openbare sektor, is daar geen rede vir paniek nie. Die belangrikste is om ingelig te wees, vooruit te beplan en basiese voorsorgmaatreëls te tref.
Volgens inligting wat aan Solidariteit beskikbaar gestel is, sal die optogte hoofsaaklik in sekere middestadgebiede en ander brandpunte plaasvind. In Pretoria word ontwrigting veral in en rondom die middestad, Kerkplein en Sunnyside verwag, terwyl verkeer by sekere groot snelwegafritte stadiger as gewoonlik kan vloei.
“Ek sal aanbeveel dat mense, waar moontlik, brandpunte soos middestede, groot snelwegkruisings en die areas naby aan informele nedersettings vermy,” sê Van Staden.
“En as jy wel onverhoeds in hierdie areas beland en in die middel van ʼn optog is – bly kalm. Moenie kwaad raak nie en moet beslis nie deur enige padversperrings probeer ry nie.”
Werkgewers en ondernemings behoort ook in gedagte te hou dat sommige werknemers moontlik weens verkeer of padsluitings later as gewoonlik by die werk kan opdaag.
Van Staden sê Suid-Afrika se veiligheidsmagte is hierdie keer baie beter voorbereid as tydens die onruste in KwaZulu-Natal in 2021.
“Die polisie en verdedigingsmagte was baie swak voorbereid op hierdie optogte, en dit is hoekom dit die land geruk het,” verduidelik hy. “Ons het wel uit daardie situasie geleer. Volgens betroubare inligting is die polisie al vir weke lank besig om deeglik voor te berei op hierdie optogte – sou dit gewelddadig raak.”
Hy beklemtoon dat daar wel ʼn moontlikheid van ontwrigting of geweld bestaan, maar dat mense nie uit vrees moet optree nie.
“Alhoewel hierdie optogte die potensiaal het om gewelddadig te raak, is daar geen rede om te vrees nie. Ons moet net ingelig wees, onsself nie onnodig in konfliksituasies plaas nie en basiese voorsorgmaatreëls tref.”
Hy waarsku ook teen die verspreiding van ongeverifieerde of angswekkende sosialemediaplasings.
“Moenie sosialemediaplasings aanstuur wat net daarop gemik is om angs op te wek nie. Wees bedag, maar moenie paniekerig wees nie.”
Die boodskap vir lede van Solidariteit is dus eenvoudig: Bly ingelig, beplan jou roetes vooruit, tref redelike voorsorgmaatreëls en gaan voort met jou dag sonder onnodige vrees.