Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
‘Plaas nou druk op radikales en herwin SA as bondgenoot só,’ sê Solidariteit in VSA
Solidariteit het ʼn gulde geleentheid by die 36ste Republikeinse Leierskapskonferensie in die deelstaat Michigan aangegryp om ʼn pleidooi te lewer vir strafmaatreëls teen vyandige Suid-Afrikaanse politieke rolspelers, eerder as optrede teen onskuldige mense van die land self.
Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, het gister op uitnodiging as gasspreker by die tweejaarlikse konferensie op Mackinac-eiland opgetree, waar sowat 1 500 lede van die Republikeinse party, insluitend kongreslede, teenwoordig was. Volgens Kleynhans is dit duidelik uit gesprekke met konferensiegangers, en uit hul reaksie ná sy toespraak, dat Amerikaners deesdae veel beter ingelig is oor Suid-Afrika, Afrikaners en die uitdagings wat hulle ervaar.
Kleynhans se toespraak is ook gister op Solidariteit se sosialemediablaaie gepubliseer.
Ná afloop van die konferensie het Kleynhans en Werner Human, operasionele hoof van die Solidariteit Beweging, na Washington D.C. vertrek, waar sommige van die belangrikste ontmoetings van die toer oor die volgende paar dae wag.
Selfs voor die toespraak in Michigan gelewer is, het Kleynhans ook namens Solidariteit ʼn versoek aan lede van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers, John James en Tom Barrett, gerig wat vra dat swaar invoertariewe teen Suid-Afrika eerder met ferm optrede teen radikale anti-Amerikaanse vervang politici word. Saam met die versoek het hy ʼn voorgestelde handelsraamwerk van Solidariteit oorhandig wat uiteensit hoe gewone Suid-Afrikaners die roede van strafmaatreëls gespaar kan word deur geringe aanpassings van albei regerings, wat die sluiting van ʼn bilaterale ooreenkoms tóg moontlik kan maak.
In die toespraak self het Kleynhans ook hulde gebring aan die konserwatiewe Amerikaanse aktivis, Charlie Kirk, wat onlangs in ʼn sluipmoordaanval dood is en gewelddadige retoriek teen konserwatiewe stemme regoor die wêreld uitgelig, met spesifieke klem op Suid-Afrika.
Nadat hy die geopolitieke waarde van Suid-Afrika as ʼn handelsvennoot beklemtoon het en die belangrikheid van Afrikaners as Westerse kulturele bondgenote onderstreep het, het Kleynhans die huidige stand van sake in Suid-Afrika betreur. Hy het vertel hoe die belofte van ʼn beter en vooruitstrewende Suid-Afrika oor ʼn tydperk van meer as 30 jaar deur ʼn kwaadwillige ANC vertrap is. Hy het ʼn owerheid beskryf wat deur kaderontplooiing politiek bó bevoegdheid geplaas het. ʼn Owerheid wat menseregtevergrype dryf met rassekwotas wat aktief teen minderhede diskrimineer en onder wie se toesig misdaadsyfers nou selfs met oorlogsones vergelyk kan word.
Uiteindelik het hy die ANC se hegte vriendskappe met outoritêre regimes soos dié van Iran beklemtoon, wat Suid-Afrika ʼn ideologiese vyand van die VSA gemaak het en wat gelei het tot ʼn voorgestelde wetsontwerp in die VSA wat geteikende sanksies teen korrupte ANC-amptenare voorstel.
“Ons ondersteun so ʼn voorstel en hoop dat die wet gou deur die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat goedgekeur word sodat president Trump dit kan onderteken,” het Kleynhans gesê.
“Die wederkerige tariewe wat president Trump in April 2025 as reaksie op ons (Suid-Afrika se) BRICS-belyning ingestel het, het Suid-Afrikaanse uitvoere van staal en landbouprodukte hard getref.
“Ons pleidooi aan die VSA is om die tariewe te verlaag en om eerder te fokus op strafmaatreëls teen die Suid-Afrikaanse regering en radikale anti-Amerikaanse politici.”
Met verwysing na Solidariteit se voorgestelde handelsraamwerk, het hy geleenthede binne die krisis uitgelig en Amerikaners aangemoedig om pro-Westerse stemme soos dié van die Solidariteit Beweging te ondersteun, sodat Suid-Afrika weer as ʼn baken van vryheid in Afrika kan herleef.
Sien die voorgestelde handelsraamwerk hier aangeheg.