
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit bespreek kommer oor plundery van staatspensioenfonds
Vrese oor onder meer die plundery van die staatspensioenfonds (GEPF) en die gevolge van die tweepotstelsel is kwessies wat groot onsekerheid by pensioenfondslede veroorsaak.
Hierdie kwessies en meer is in die soeklig geplaas tydens Solidariteit se GEPF-beraad op Donderdagaand 20 Junie in Centurion.
Kenners uit die finansiële beroepsveld asook ander belanghebbendes het tydens die beraad insette gelewer oor die prestasie van die GEPF, asook beleidsprobleme, die impak van transformasieplanne en leemtes in die beleggingstrukture van die fonds uitgelig.
Klik hier om na ’n uitsending van die beraad te kyk.
ʼn GEPF-verslag wat deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) opgestel is, is ook by die beraad uitgereik, en talle lede het in dié verslag aangedui dat daar by hulle redelike kommer bestaan oor die wyse waarop die fonds in die verlede wanbestuur is, asook die wyse waarop die fonds in die toekoms bestuur sal word.
Volgens kenners het die GEPF as die grootste pensioenfonds in Afrika geweldige potensiaal al was daar in die verlede aanduidings dat die fonds wanbestuur is. Nuwe wetgewing rakende pensioengeld wat vroeër bekom kan word, laat nou boonop kommer ontstaan oor die moontlikheid van wanbestuur en plundery van hierdie fonds.
“Die staatskas loop reeds leeg en die staat glo die fondse moet benut word om die breër Suid-Afrikaanse samelewing te bevoordeel,” sê Helgard Cronjé, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris vir die openbare bedryf.
Volgens Cronjé kan die implikasies van die veranderde wetgewing oor die tweepotstelsel nadelige gevolge vir staatdienswerkers inhou.
“Die nuwe wetgewing rondom vroeë bekombare pensioengeld hou ʼn magdom gevare vir sowel die privaat sektor as die staatsektor in. Sou staatsdienswerkers in groot getalle hul pensioengeld vroeër uit die fonds onttrek, sal die fonds in die eerste plek ʼn groot verlies ly. Dit sal ook in die privaat sektor gebeur,” sê Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris vir strategie by Solidariteit.
Onreëlmatighede by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), waarvan die GEPF die grootste kliënt is, is al in die verlede deur ʼn spesiale kommissie, die Mpati-kommissie wat wanbestuur van die GEPF ondersoek het, uitgewys.
Volgens Cronjé was daar dus reeds slegte beleggings waarby GEPF-kaders gebaat het en die fonds ʼn verlies as gevolg daarvan gely het.
Solidariteit is bekommerd oor die plundery van die fonds wat voorheen voorgekom het, en kan geen bewyse kry dat die Mpati-kommissie se aanbevelings wel geïmplementeer is nie.
Solidariteit oorweeg verskeie litigasiestrategieë wat teen die staat aangewend kan word.
“Ons het reeds navorsing gedoen en ons lede deel ons bekommernis oor die bestuur van die fonds,” sê Cronjé.